Die Tshwane-metroraad se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Aaron Maluleka, moet sonder versuim vervang word.
Hierdie oproep van die VF Plus tydens die jongste vergadering van die raad, volg op ’n ontstellende oorsigverslag wat ernstige wanbestuur, finansiële vermorsing en blatante oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurwet (MFMA) uitwys.
Na tien maande in dié amp het die departement geen betekenisvolle vordering getoon nie.
Vir die tydperk van Julie 2024 tot Junie 2025 was daar ’n onderbesteding van meer as R500 miljoen, projekvertragings en ’n vakaturekoers van 64%, wat die doeltreffendheid van behuisingsprojekte ernstig ondermyn.
Sleutelprojekte soos Refilwe-uitbreiding 10, Rama City en Winterveldt toon ’n tendens van sistemiese verval, met miljoene rande wat bestee is sonder tasbare resultate.
Ernstige MFMA-oortredings sluit in:
• Onreëlmatige besteding van R15,5 miljard
• Geen gevolgbestuur ná beëindiging van kontrakte
• Vertraagde betalings aan kontrakteurs
• Onakkurate finansiële state
• Verlies van R133 miljoen weens geen rente op debiteure
• Wydverspreide vandalisme weens swak interne kontroles
Hierdie oortredings is nie net wetlik problematies nie, maar ook moreel onaanvaarbaar. Elke rand wat vermors word, verteenwoordig ’n kind sonder water en ’n gesin sonder ’n veilige huis. Onmiddellike ingryping is nodig om verdere skade te voorkom.
Die VF Plus stel die volgende aksies voor:
• Volledige oudit van alle behuisingsprojekte
• Swartlys van kontrakteurs wat projekte nie voltooi nie
• Maandelikse gevolgbestuursverslae aan die raad
• Vul van vakatures vir beter projektoesig
• Deursigtige openbare verslagdoening oor toekennings en besteding
Die VF Plus bly vasbeslote om waardigheid, deursigtigheid en dienslewering in die Tshwane-metro te herstel.
Die party sal aanhou druk uitoefen totdat elke projek gelewer word en elke inwoner die behuising en infrastruktuur ontvang wat hulle verdien.


