Die administratiewe agentskap vir die staat se pensioenfonds (GPAA) se verdagte wanaanwending van fondse word ten sterkte veroordeel aangesien die agentskap grootliks befonds word deur die pensioenfonds (GEPF).
Enige verliese wat die GPAA ly, beteken ook ʼn finansiële verlies vir lede van die GEPF en pensioenarisse.
Luidens onlangse mediaberigte blyk dit dat die GPAA onreëlmatige verkrygingskontrakte van R1,2 miljard aangegaan het.
Die VF Plus eis derhalwe dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) of ‘n ander onafhanklike liggaam aangestel word om ‘n volledige forensiese ondersoek te onderneem.
Die party neem kennis daarvan dat die minister van finansies, Enoch Godongwane, die GPAA se hoof uitvoerende beampte, Kedibone Madiehe, geskors het hangende ‘n ondersoek.
Dit was nadat mediaberigte oor die GPAA se verdagte verkrygingskontrakte verskyn het en die parlementêre komitee oor staatsdiens en administrasie die oënskynlike fiktiewe huurkontrak vir nuwe GPAA-kantore van R1 miljard bevraagteken het.
Die skorsing van die hoof uitvoerende beampte van die GPAA blyk egter ‘n arbeidsregtelike proses te wees en enige ondersoek na moontlike wanadministrasie moet uiteraard meer uitgebreid plaasvind en onafhanklik wees.
Die VF Plus vereis daarom ‘n ondersoek deur die SOE of ‘n ander onafhanklike liggaam.
Die GPAA se verdagte wanaanwending van GEPF-fondse kom teen die agtergrond van miljarde rande se verliese wat die GEPF gely het weens die roekelose optrede van die openbare beleggingskorporasie (OBK) wat die mandaat en monopolie het om die GEPF se fondse te belê.
Die Mpati-kommissie wat aangestel was om die beleggings van die OBK namens die GEPF te ondersoek, het dodelike bevindinge gemaak wat dui op wesenlike wanbestuur met die GEPF-lede en pensioenarisse se pensioengeld asof dit die persoonlike eiendom van die OBK en die regering is.
Die OBK doen ook talle beleggings in ongenoteerde swart ekonomiese bemagtigingsprojekte waarvan die meeste tot nou toe klaarblyklik gefaal het.
Die VF Plus is daarom ook besig met ‘n ondersoek om moontlik ‘n groepsgeding vir die GEPF-lede en -pensioenarisse teen die OBK te laat realiseer vir al die verliese wat die GEPF gely het.
Enige bewese verliese wat die GPAA veroorsaak het, sal deel van die groepsgeding vorm.
Die VF Plus is vasbeslote om te keer dat die GEPF-lede en -pensioenarisse nie deur die dieselfde krisis gaan as dié van die Transnet-pensioenarisse nie.


