Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende optrede teen toenemende gevalle van geslagsgeweld en verkragting in Mpumalanga

Die VF Plus is diep bekommerd oor die aanhoudende toename in geslagsgegronde geweld en verkragting in Mpumalanga, en eis dringende optrede van die betrokke owerhede.

Mpumalanga se inwoners – veral vroue en kinders – leef steeds in vrees weens die hoë aantal gevalle van seksuele misdade en geweld. Die mees onlangse misdaadstatistiek, asook verslae van privaat organisasies, dui op ’n skokkende realiteit: geslagsgegronde geweld neem toe, terwyl die reaksie van wetstoepassingsagentskappe onvoldoende bly.

Hierdie situasie is nie net ‘n morele krisis nie, maar ‘n direkte skending van menseregte. Dit is onaanvaarbaar dat slagoffers steeds in stilswye ly, dikwels sonder toegang tot beskerming, berading of geregtigheid.

‘n Vermiste 17-jarige meisie is op 28 Mei 2025 vermoor in ‘n geslote plakkershut in Kinross gevind.

Volgens die polisieverslag was die slagoffer sedert 23 Mei 2025 vermis. Haar geskende liggaam is in ‘n hut gevind wat na bewering aan haar stiefpa behoort.

In Januarie 2025 is ‘n 39-jarige man in hegtenis geneem op aanklagte van verskeie verkragtings en ontvoerings van minderjarige meisies tussen die ouderdomme van 7 en 13 in Emalahleni. Die verdagte het glo kinders na ‘n winkel gestuur om hulle van ander te skei, hulle daarna na bewering ontvoer en verkrag.

Hy word verbind met minstens tien gevalle van verkragting en ontvoering in Emalahleni, Vosman en Mhluzi gedurende 2023 en 2024.

Hierdie voorvalle beklemtoon die dringende behoefte aan versterkte maatreëls teen geslagsgeweld in Mpumalanga.

Die VF Plus glo dat daar geen ruimte vir politieke versuim of onverskilligheid bestaan wanneer dit kom by die beskerming van kwesbares nie.

Die provinsiale regering, in samewerking met die departemente van gemeenskapsveiligheid en maatskaplike ontwikkeling asook die provinsiale polisiediens, moet daadwerklike, gekoördineerde en volhoubare maatreëls in werking stel om hierdie soort misdaad te bekamp.

Die party doen ’n beroep op die Mpumalanga-wetgewer om sy gesamentlike verantwoordelikheid na te kom deur:
• Die onmiddellike hersiening van voorkomingsprogramme vir geslagsgegronde-geweld en beskermingsdienste,
• Die verbetering van polisiëring en ondersoekvermoëns in verkragtingsake, en
• Die ondersteuning van slagoffers deur middel van toeganklike trauma-hulp en regsbystand.

Die VF Plus sal aanhou veg teen geslagsgeweld in al sy vorme en sal voortgaan om die regering tot verantwoording te roep waar dit versuim om vroue en kinders te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.