Die administratiewe kantoorgebou van die Noord-Kaap Stedelike Kollege in Kimberley het gisteraand weens brandstigting in die slag gebly. Hoewel dié soort optrede nie goed gepraat kan word nie, deel die Nasionale Studentefinansieringskema (NSFAS) in die skuld daarvoor.
Gefrustreerde studente betoog reeds weke lank weens laat betalings deur NSFAS. Dié skema, wat meer as ‘n miljoen studente se studies finansier, speel sedert die Fees Must Fall-veldtog ‘n deurslaggewende rol in naskoolse onderwys.
Oud-president Jacob Zuma het einde 2017 in reaksie op die veldtog gratis hoër onderwys beloof. NSFAS, in daardie stadium ‘n kleinerige beursskema, is bykans oornag in ‘n reuse toelaagskema verander.
Klasgelde, losies en sakgeld vir elke begunstigde moet sedertdien aan ‘n steeds groeiende getal studente uitbetaal word. NSFAS se stelsel was uit die staanspoor nie vir dié taak opgewasse nie.
Die brandendste deel van die krisis is die onvermoë om sakgeld elke maand betyds aan studente te betaal, aangesien hierdie betalings deel van die land se maatskaplike vangnet geword het.
Die groot handelsbanke is toegerus om hierdie funksie te vervul, maar NSFAS volhard in die gebruik van opkomende fintech-ondernemings ter wille van transformasie.
Die vernietiging van die kantoorkompleks in Kimberley is net nóg ‘n voorbeeld van die ANC se transformasiebeleid wat die teenoorgestelde van sy doel bereik.