Die VF Plus bevraagteken die doelwit van die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Nkosindiphile Xhakaza, se besoek van twee dae aan Nairobi, Kenia, in Februarie.
Volgens die burgemeester was dit glo om deel te neem aan ʼn reeks werksessies wat gefokus het op klimaatsverandering, omgewingsvolhoubaarheid, stedelike veerkragtigheid en die luggehalte van stede.
’n Verslag wat aan die raad voorgelê is en die aktiwiteite van die besoek uiteensit, openbaar egter ’n ontstellende gaping tussen internasionale deelname en plaaslike implementering.
Die onlangse 2025/2026-finansiële begroting, wat goedgekeur is ten spyte van verskeie stemme teen daarteen, insluitend dié van die VF Plus, toon geen werklike verbintenis tot omgewingsaksies nie, veral nie ten opsigte van luggehalte-monitering nie.
Die monitering van luggehalte is ʼn toenemende bekommernis vir inwoners van Ekurhuleni.
Ten spyte van kundiges se herhaalde aanbevelings dat R2 500 000 die minimum bedrag is wat benodig word om te verseker dat Ekurhuleni se luggehalte-moniteringstasies ten volle funksioneel en operasioneel is, het die metro slegs R2 250 000 aan die hele gesondheidsdepartement toegeken. Hierdie departement is verantwoordelik vir ’n wye reeks gesondheidsdienste, insluitend luggehalte, wat beteken dat die portefeulje net ’n klein en onvoldoende deel van die totaal sal ontvang.
Die VF Plus is besorg dat die burgemeester se oorsese besoek, hoewel daar berig is dat dit “geen direkte koste” vir die raad ingehou het nie, blyk om niks anders te wees as ’n simboliese oefening sonder enige praktiese uitkomste of strategiese opvolge nie.
Die VF Plus sal nie mislei word deur sogenaamde “kostelose” werksreise wat geen voordeel vir die mense van Ekurhuleni inhou nie. Inwoners verdien om resultate te sien — nie net verslae en goeie bedoelings nie.
Hulle verdien begrote, meetbare aksies wat werklike politieke wil toon om lewensomstandighede te verbeter en openbare gesondheid te beskerm.
Ekurhuleni staar steeds ernstige omgewingsuitdagings in die gesig — van swak luggehalte tot kwesbaarhede as gevolg van klimaatsverandering.
Totdat die leierskap bewys dat hy internasionale blootstelling in plaaslike impak kan omskep, sal hierdie reise deur die VF Plus en die publiek gesien word as vermorste geleenthede.


