Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat Noordwes-premier inwoners eerste stel

Dit is noodsaaklik dat Noordwes se premier, Bushy Maape, eerskomende Vrydag met sy provinsiale rede die provinsiale regering daartoe verbind om in 2023 dié provinsie se inwoners eerste te stel.

Inwoners van Noordwes ly reeds te lank onder die gevolge van ‘n ANC-regering wat skynbaar glo dat sy funksie bloot is om die belange van die onderskeie ANC-faksies in die provinsie te dien.

Die gevolge van die ANC-regering se optrede in Noordwes kan gesien word in die stand van erge verval van munisipaliteite regoor die provinsie, sowel as die gebrek aan dienslewering op provinsiale vlak.

Verál die verval van kritieke infrastruktuur soos paaie, kragnetwerke en waterverskaffing moet dringend in ‘n korrupsievrye omgewing aangespreek word.

Te veel infrastruktuurprojekte is al gesaboteer en verlam deur die optrede van korrupte tenderpreneurs en ontplooide ANC-kaders en hul kohorte in provinsiale departemente.

Letterlik miljarde rande wat tot voordeel van Noordwes se inwoners aangewend moes word, is al deur hierdie elemente wanbestee of bloot gesteel.

Die spoedige herbou en herstel van basiese infrastruktuur en dienste om ‘n beleggersvriendelike sake-omgewing te skep, is van kritieke belang.

Dié provinsie het ‘n jeug-werkloosheidskoers van 60% en van die laagste per-capita inkomste in die land.

Die ANC-regering wat jaarliks lugkastele bou en leë beloftes oor werkskepping aan die inwoners verkwansel, kan daarom nie langer geduld word nie.

Slegs die herstel van ‘n gunstige sake-omgewing sal die private sektor in staat stel om welvaart en werksgeleenthede in Noordwes te skep.

Dringende stappe moet geneem word om te verseker dat LUR’e en die topbestuur van provinsiale departemente verantwoordelik en verantwoordbaar gehou word vir dienslewering.

Die VF Plus sal aanhou stry vir ‘n korrupsievrye provinsiale administrasie wat werklik die belange van Noordwes se inwoners dien.

Noordwes verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.