fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat ontwikkeling van Musina-Makhado-spesiale ekonomiese sone gestaak word

Die VF Plus steun om verskeie redes belangegroepe se bekommernis oor die beplande Musina-Makhado-spesiale ekonomiese sone (MMSES) in die Vhembe-distrik van Limpopo.

Daarom eis die VF Plus dat die nasionale en provinsiale regering van Limpopo onmiddellik dié projek staak en in gesprek getree word met die onderskeie belangegroepe en inwoners.

Die MMSES word beplan in die droë Limpopokom wat ‘n bedreiging inhou vir landbou, watersekerheid, toerisme, die omgewing en die kulturele- en fossielerfenis.

Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme en sy ontwikkelingsarm, die Limpopo-ontwikkelingsagentskap hanteer die ontwikkeling.

Die VF Plus glo dat die omgewingsimpakstudie wat die groen lig gee vir dié ontwikkeling, gebrekkig is en nie die skade wat dit aan die omgewing en aan mense sal aanrig, in aanmerking neem nie.

Duisende kremetartbome sal verskuif moet word om plek te maak vir die ontwikkeling. Kremetartbome kom net in die noordelike dele van Suid-Afrika voor, meestal tussen die Limpoporivier en Soutpansberg.

Die ontwikkeling sal ook die Mapungubwe-landskap wat op 3 Julie 2003 as ‘n Unesco-wêrelderfenisterrein verklaar is, bedreig.

Die VF Plus is nie gekant teen ekonomiese ontwikkeling nie, maar dit moet in balans geskied en die skade aan die natuur en die huidige klimaatkrisis moet daarteen opgeweeg word.

Die VF Plus beveel aan dat daar teruggegaan word na die tekenbord en ander meer gepaste gebiede geïdentifiseer word vir die vestiging van ‘n ekonomiese sone in Limpopo.

Tans blyk hierdie ‘n ontwikkelingsprojek te wees tussen politici en China sonder om die plaaslike realiteite in ag te neem.

Die VF Plus sal in die parlement sowel as deur middel van sy strukture in Limpopo alles in die stryd werp om die ontwikkeling van die beoogde sone te stuit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.