Die afgelope vyftien jaar het ek as leier van die VF Plus verskeie kere tydens die verdedigingsbegroting gesê meer geld moet vir verdediging beskikbaar gestel word om te voorkom dat Suid-Afrika met ‘n ‘flentergat-weermag’ sit.
Dit het nie gebeur nie en soos gewaarsku, het die weermag nou daardie punt van verval bereik.
’n Mediaberig in Rapport (Bankrot weermag se R220 m.-makietie, 19 Februarie 2023) oor ’n groot weermagviering in Richardsbaai, skets ’n donker prentjie oor die omvang van die verval.
Luidens die berig beskik die weermag nog net oor twee eerstelinie-vegvliegtuie, een diensbare fregat en ’n logistieke vleuel wat nie eens meer die diesel vir die leër se orkes kan betaal nie.
Orkeslede moes klaarblyklik uit hul eie sakke betaal vir die diesel om van Kaapstad, waar die staatsrede gelewer is, na Richardsbaai te reis.
Dit dui op die totale verval van die weermag terwyl hy aan die ander kant geld mors deur luidens die berig R220 miljoen te bestee aan die parade in Richardsbaai.
In die proses het dissipline en ordelikheid in die slag gebly. Foto’s by die Rapport-berig wys hoe soldate in flenter-tente op ’n vloedvlakte by Richardsbaai moet bly terwyl generaals in vyfster-gastehuise tuisgaan.
Die foto met die flenter-tente is eintlik simbolies van die toestand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).
Dit raak baie duidelik dat al die komponente van die weermag tot ’n groot mate verval het. Daar is blykbaar nie eens genoeg geld om te sorg dat die weermag se rekenaarstelsel nie oorverhit nie.
Daar kan ook nie R26 miljoen gevind word om toerusting te verskaf om die totale datastelsel wat onder meer gebruik word vir salarisbetalings en aankope, in stand te hou nie.
Tog is daar R220 miljoen vir ’n spoggeleentheid om Rusland en China te beïndruk en die indruk te wek dat Suid-Afrika se weermag paraat is. Die werklikheid is net die teenoorgestelde.
Daarbenewens gaan die SANW gebuk onder ’n topstruktuur van generaals wat enorme salarisse verdien.
Luidens ’n artikel in DefenceWeb (3 Februarie 2021; ‘SANDF is top-heavy with generals – Parliamentary research report’) was daar toé reeds sowat 400 generaals in die weermag. Dit was een vir elke 184 ander persone in die weermag.
Dit laat die vraag ontstaan of dit werklik die moeite werd is om meer belastinggeld te begroot vir die weermag indien dit so spandabelrig vermors word.
Die VF Plus se standpunt is dat hierdie vieringe op Richardsbaai nie moes plaasvind nie. Die R220 miljoen kon veel beter aangewend gewees het.
Die toestand van die weermag se toerusting is ewe skandalig. Vlieëniers moet op hul hande sit omdat net twee van 26 Gripen-vegvliegtuie wat miljarde rande gekos het, funksioneel is.
Net vier van die lugmag se elf Rooivalk-aanvalshelikopters is diensbaar en daar is bykans geen oorlogsvaartuig wat kan deelneem aan die militêre oefening saam met Rusland en China nie.
Die vloot het eintlik net twee skepe wat deelneem aan dié omstrede oefening, een daarvan ’n opmetingskip van meer as vyftig jaar oud en die ander die fregat SAS Mendi.
Die weermag sal ernstig moet herbesin oor sy topstruktuur, veral wat hul salarisse aanbetref en sal van bo dissipline moet toepas.
Daar kan nie van die belastingbetaler verwag word om verder op te dok vir die SANW se vermorsing op onnodige luukshede terwyl dít wat regtig saak maak, verval nie.