Die prestasieverslag van die Tshwane-metro se departement van menslike nedersettings vir die 2024/25-finansiële jaar verberg ernstige mislukkings, die mors van openbare geld en hou kontrakteurs nie aanspreeklik nie.
Een van die mees skokkende voorbeelde is ’n behuisingsontwikkeling in Bronkhorstspruit en omliggende oostelike gebiede. Hier het foutiewe ontwerpe en groot vertragings deur die konsultant, Lilibara Projects, tot verliese van R34 miljoen gelei. Hiervan is R10 miljoen aan versekeringseise gekoppel, terwyl R24,2 miljoen direk aan die konsultant betaal moes word. Hierdie duur foute is ’n duidelike bewys van swak bestuur en ’n gebrek aan behoorlike toesig.
Ten spyte van hierdie duur foute word die meeste diensverskaffers in die verslag as “goed” beoordeel. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die geloofwaardigheid van die graderingstelsel onder die huidige ANC-burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Aaron Maluleka.
Interne rompslomp vererger die probleem. Stadige goedkeuring van bouplanne, trae dorpsontwikkeling, swak voorsieningskettingbestuur en vertragings met subkontrakteurs veroorsaak dat projekte sloer selfs wanneer geld beskikbaar is.
Die VF Plus dring aan op die volgende stappe om te verseker dat belastingbetalers waarde vir hul geld kry:
• ’n Onafhanklike oudit van die graderingstelsel deur eksterne ouditeure wat deur die raad aangestel word.
• Volledige openbaarmaking van alle projekveranderinge en variasiebevele.
• Dissiplinêre optrede teen amptenare wat statutêre spertye mis.
• Sterker kontrak- en voorsieningskettingbestuur met verskerpte tydlyne en verpligte kwartaallikse verslae.
• Vroeë optrede teen hoërisiko-diensverskaffers, insluitend swartlys en verwysings na professionele rade.
Die VF Plus bly verbind tot die beskerming van Tshwane se finansiële integriteit. Projekte moet betyds afgehandel word, geld moet verantwoordelik bestee word en diensverskaffers moet aan die hoogste standaarde gemeet word.


