Die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch-plaaslike munisipaliteit, Jeremy Fasser, moet volledig rekenskap gee oor waarom hy sowel as die burgemeesterskomitee vir vier jaar lank meer as twaalf beginselgoedkeurings vir die verhuring van munisipale grond kon verleen sonder dat mededingende tenderprosesse of behoorlike openbare deelname plaasgevind het nie.
Die nasionale tesourie (NT) het reeds in Mei 2025 die munisipaliteit gewaarsku dat hierdie interne beleid onwettig is omdat dit afwyk van mededingende prosesse.
Die toestemming aan die burgemeester via die Stelsel van Delegasies (Junie 2022) is eweneens onwettig, aangesien die volle raad alleen hierdie bevoegdheid het.
Ten spyte van die NT se waarskuwing is die saak eers tien maande later, in Maart 2026, voor die raad gebring. Die VF Plus vind hierdie vertraging onaanvaarbaar.
Gemeenskapsorganisasies soos U-turn Dakloses-skuiling, L’Abri Veiligheidshuis en Stellenbosch Dierewelsyn het van hierdie eiendomme gehuur en is nou onseker oor hul toekoms.
Die VF Plus eis die onmiddellike staking van hierdie onwettige praktyk en ’n deursigtige, wettige proses vir alle betrokke partye. Belastingbetalers mag nie die koste van die munisipaliteit se administratiewe versuim dra nie.
Die inwoners van Stellenbosch verdien ’n munisipaliteit wat binne die wet optree. Die VF Plus sal aanhou om hierdie administrasie aan daardie standaard te hou.


