Die konsepbegroting van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit vir die 2026/27-finansiële jaar maak geen betekenisvolle voorsiening vir die opgradering van infrastruktuur nie en spreek glad nie die dringende behoeftes van inwoners aan nie.
Die konsepbegroting maak voorsiening vir bedryfsuitgawes van sowat R439,4 miljoen, maar slegs R16,7 miljoen vir kapitaalprojekte. Dit beteken dat daar prakties geen befondsing is vir die opgradering van water-, krag- en riool-infrastruktuur nie.
Inwoners bly dus ly onder swak water- en elektrisiteitsvoorsiening, terwyl voorgestelde tariefverhogings die finansiële druk op huishoudings verder sal vererger.
Die onstabiele kragtoevoer maak dit bykans onmoontlik vir nuwe ondernemings om in die gebied te belê. Sonder ekonomiese groei, styg die werkloosheidsyfer steeds.
Indien die voorgestelde tariefverhogings aanvaar word, sal eiendomsbelasting, riool-, vullisverwydering- en watertariewe styg met 3,4%. Die kragtarief sal styg met 11,1% afhangende van Nersa-goedkeuring.
Die VF Plus doen ʼn beroep op Dipaleseng se inwoners om hul grondwetlike reg te gebruik en insette te lewer oor die konsepbegroting en oor hoe hul belastinggeld aangewend moet word.
Die realiteit is dat die ANC ná bykans 31 jaar se beheer geen geloofwaardige plan het om die verval van Dipaleseng te keer nie.
Inwoners het met vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om die ANC uit te stem en vir die VF Plus te stem – die party wat wel dienslewering prioritiseer.


