Die voorgestelde tweede aansuiweringsbegroting van Mpumalanga vir die 2025/26-finansiële jaar plaas ʼn vraagteken agter die ANC-regering se finansiële dissipline en beplanning.
As ’n geldwetsontwerp moet hierdie aanpassings ingevolge artikels 119 en 120 van die Grondwet behandel word. Elke aanpassing moet duidelik gemotiveer word en aan konkrete, meetbare uitkomste gekoppel wees.
Die provinsiale regering beplan om groot bedrae fondse hoofsaaklik aan die provinsiale rampreaksie-toelae toe te ken. Die belangrikste aanpassings is onder meer:
• Gesondheid: ’n Bykomende R1,2 miljard, waarvan R8 miljoen na die rampreaksie-toelae gaan. Hoewel noodsaaklik, vra die VF Plus of dit nie bloot ’n reddingsboei vir vorige wanbestuur is nie.
• Onderwys: ’n Bykomende R950 miljoen, waarvan R12 miljoen na die rampreaksie-toelae. Die party wil weet waarom hierdie behoeftes nie reeds in die oorspronklike begroting beplan is nie.
• Paaie en Vervoer: ’n Bykomende R600 miljoen, waarvan R29 miljoen na die Rampreaksie-toelae. Die VF Plus eis dat hierdie fondse aan spesifieke projekte gekoppel word met deursigtige tenderprosesse.
• Behuising en Landbou: R400 miljoen vir behuising en R250 miljoen vir landbou. Die VF Plus waarsku dat hierdie fondse werklik by gemeenskappe moet uitkom en nie na politiek gekoppelde kontrakteurs mag wegvloei nie.
Die besnoeiings van R300 miljoen op administratiewe uitgawes is ʼn goeie begin, maar toesighouding en deursigtigheid mag nie verswak nie.
Begrotingsaanpassings moet sigbare resultate lewer en werklik tot dienslewering bydra. Dit mag nooit as ’n agterdeur dien om politieke gunstelinge te bevoordeel nie.
Belastingbetalers verdien deursigtigheid, aanspreeklikheid en werklike verbetering in hul daaglikse lewe.


