Die VF Plus verwelkom die minister van finansies, mnr. Enoch Godongwana, se toegewing om die brandstofheffing vir een maand met R3 te verlaag.
Dit verlig die pyn vir vuisvoos motoriste, maar die verlore belasting sal wel later van motoriste herwin moet word.
In ‘n onlangse parlementêre vraag wou die VF Plus van die minister weet watter fiskale ingrypings moontlik is om die verhoging in brandstofpryse te versag. Dit is teen die agtergrond daarvan dat die pas goedgekeurde fiskale raamwerk bitter min beweegruimte laat. Dit het juis ‘n verhoging in die brandstofheffing ingesluit.
In sy verklaring het die minister duidelik gemaak dat die toegewing slegs vir een maand geld.
Die VF Plus hoop saam met die minister dat internasionale skommelings wat tot die verhoging in ru-oliepryse gelei het, in daardie maand na normaal sal terugkeer. Indien wel, kan die inkomste wat die staat die maand verloor, herwin word sonder om die brandstofpryse weer te verhoog. Daarna kan prysvasstelling na normaal terugkeer.
Die huidige krisis onderstreep Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde brandstowwe. Die strategiese belang van Sasol, sowel as volhoubare elektrisiteitsvoorsiening om elektriese vervoer moontlik te maak, word in sulke tye baie duidelik.


