Die Tshwane-metro se eis dat die historiese Harlequins-sportklub in Groenkloof, wat al vir 122 jaar as sportklub vir die gemeenskap bedryf word, binne enkele weke na sy “oorspronklike” toestand as plaas herstel moet word, is onrealisties en absurd.
Die klub, wat in 1902 gestig is, is ‘n belangrike gemeenskapsinstansie, het honderde lede en fasiliteite soos twee rugbyvelde, ’n krieketveld, rolbalbane, ’n muurbalbaan, klubkamers, pawiljoene en ’n restaurant.
In 2021 het die klub reeds ’n formele aansoek ingedien om die grond van landbou- na sport- en ontspanningsgebruik te hersoneer. Vyf jaar later het die metro steeds nie hierdie aansoek afgehandel nie.
Op 17 Maart 2026 het die metro egter kennis gegee dat die klub alle advertensieborde binne sewe dae moet verwyder en binne 28 dae alle strukture en verbeterings moet sloop sodat die terrein weer soos ’n plaas lyk.
Dit is onsinnig dat die metro nou dreig om netjiese sportfasiliteite wat oor meer as ’n eeu ontwikkel is, te vernietig, terwyl die metro self vyf jaar lank met administratiewe rompslomp en onbevoegdheid die hersoneringsaansoek vertraag het.
Hierdie aanval op die Harlequin-sportklub is afkomstig uit die portefeulje van die voormalige ActionSA-burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe- en gedeelde dienste, Kholofelo Morodi, wat op 27 Maart 2026 afgedank is. Morodi is op rekord met uitlatings dat gevestigde sportklubs soos Harlequin “lank genoeg bevoordeel is.”
Terwyl die Tshwane-metro sukkel om sy eie bates en infrastruktuur in stand te hou, probeer hy nou ’n suksesvolle historiese landmerk en voorbeeld van private inisiatief en gemeenskapsamewerking vernietig.
Die VF Plus eis:
• Die onmiddellike intrekking van die kennisgewing en slopingseis van 17 Maart 2026, asook die staking van alle uitsetting- en slooppogings.
• Dat die metro die klub se soneringsaansoek van 2021 onverwyld as ’n dringende saak finaliseer.
• Dat die metro erken dat gevestigde sportklubs soos Harlequin waardevolle vennote in gemeenskapsdienslewering is en nie as vyande behandel mag word nie.
Die VF Plus sal onwrikbaar by die Harlequin-sportklub en sy lede staan om hierdie historiese bate vir die nageslag en sportliefhebbers van alle gemeenskappe te beskerm.


