Die brandstofkrisis in Suid-Afrika byt reeds só erg dat die gemeenskapsveiligheidsoorsigkomitee van die Tshwane-metro nie sy funksies na behore kan uitvoer nie.
Die VF Plus voorsien dat hierdie ‘n landwye probleem sal raak wat deeglike beplanning en die sinvolle gebruik van beskikbare brandstof gaan noodsaak.
In Tshwane is ʼn besoek aan die metro se perdestalle en honde-eenheid Dinsdag op die nipper deur die metro gekanselleer weens ʼn gebrek aan diesel.
Die lede word gewoonlik per bus na die terrein vervoer.
Hierdie inspeksie is belangrik om toesig te hou oor die welstand van die diere, die toestand van geriewe asook die operasionele gereedheid van die honde-eenhede wat ’n sleutelrol speel in wetstoepassing vir die gemeenskap en die metro se veiligheid.
Dit is kommerwekkend dat hierdie belangrike funksie nie kan plaasvind nie.
Die gebrek aan diesel dui op ernstige tekortkominge in beplanning en bestuur binne Tshwane. Dit is onaanvaarbaar dat daar nie betyds beplan is vir basiese operasionele vereistes, soos brandstof vir amptelike vervoer nie.
Hierdie situasie raak nie net interne funksionering nie, maar kan lei na direkte gevolge vir dienslewering en openbare veiligheid.
Die VF Plus het in ʼn brief aan die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Tlangi Mogale, gevra om dringend ondersoek in te stel na die oorsaak van die dieseltekort, om die betrokke amptenare te identifiseer en daardie persone aanspreeklik te hou.
Die VF Plus bly verbind tot die beginsels van goeie regering, verantwoordbaarheid en effektiewe toesig en sal voortgaan om druk toe te pas totdat hierdie kwessie behoorlik aangespreek word.


