Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Maruleng-konsepbegroting skep wanbalans tussen kostes en dienslewering

Die VF Plus kan nie die Maruleng-plaaslike munisipaliteit (Hoedspruit, Kampersrus, Ofcolaco) se konsepbegroting vir 2026/27 met sy gepaardgaande tariefverhogings steun nie.

Inwoners gaan met ʼn gemiddelde verhoging van 3,7% finansieel verder onder druk geplaas word terwyl daar terselfdertyd aansienlike stygings in administratiewe en sekere kapitaaluitgawes voorkom.

Belangrike besware sluit in:

• Administratiewe kostes: Die begroting vir gemeenskapskomitees styg van R4,3 miljoen na R7,6 miljoen.
• Infrastruktuurprojekte: Die omheining van begraafplase verhoog van R388 000 na R2 miljoen, en die Thusang-dienssentrum se heining van R200 000 na R1,5 miljoen.
• Toerusting en tegnologie: Kantoortoerusting styg van R500 000 na R1,4 miljoen, IT-toerusting van R100 000 na R1 miljoen, en daar is ’n deurlopende toewysing van R2,5 miljoen vir netwerkopgraderings.
• Ander prioriteite: R1 miljoen word beplan vir die opgradering van ’n gebou wat aan die nie-regeringsorganisasie Kruger 2 Canyon behoort.

Hierdie spesifieke items saam toon ’n styging van sowat R4,6 miljoen op die vorige begroting na meer as R11 miljoen in die huidige konsepbegroting wat ‘n toename is van meer as R6,4 miljoen.

Terwyl administratiewe en sekere ondersteunende uitgawes aansienlik styg, bly basiese dienslewering (water, paaie, sanitasie en elektrisiteit) in ’n landelike munisipaliteit soos Maruleng onder groot druk.

Die konsepbegroting toon nie voldoende balans tussen administratiewe kostes en verbetering in direkte dienslewering aan inwoners nie.

Die VF Plus sal voortgaan om as waghond op te tree en sal eis dat munisipale fondse prioriteit gee aan kerndienste en infrastruktuur wat die daaglikse lewe van inwoners verbeter, eerder as aan onnodige administratiewe uitbreiding.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.