Die VF Plus soek antwoorde nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n senior lid van die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdaad (Valke), van ’n hoëprofiel korrupsie-ondersoek verwyder is
en met ’n junior beampte vervang is.
Die party het vrae hieroor gerig aan die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia.
Die ondersoek hou verband met bewerings van korrupsie van sowat R269 miljoen wat met die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, verbind word.
Volgens mediaberigte is die betrokke Valke-offisier van die ondersoek verwyder terwyl hy self intern ondersoek word. Die aard van die ondersoek is nog nie amptelik bekend gemaak nie.
Meer kommerwekkend is dat ’n junior beampte aangewys is om die hoëprofiel korrupsie-ondersoek te lei, veral gegewe die president se herhaalde uitlatings dat die polisie aanspreeklik gehou moet word en dat korrupsie binne die regering uitgeroei moet word.
Die VF Plus beskou die omstandighede rondom hierdie skuif as ernstig en hierdie verandering van ondersoekbeamptes plaas die deursigtigheid en geloofwaardigheid van die ondersoek onder ’n wolk van onsekerheid.
Wanneer senior polisielede wat verantwoordelik is vir die leiding van sensitiewe en ernstige ondersoeke self nie bo verdenking is nie, wek dit ernstige vrae oor die impak wat dit op die doeltreffendheid en geloofwaardigheid van sulke ondersoeke kan hê.
Die VF Plus wil weet of die minister kennis dra van die skuiwe en eis volledige terugvoer oor die redes vir die veranderinge en die samestelling van die ondersoekspan.
Die publiek is geregtig op antwoorde, veral waar groot bedrae belastinggeld en moontlike hoëvlak-korrupsie ter sprake is.


