Die VF Plus het die Johannesburg-metro se burgemeester, Dada Morero, gewaarsku dat die metro se groeiende finansiële las en verswakkende infrastruktuur die metro nie vorentoe sal neem nie en dienslewering aan inwoners en belastingbetalers verder sal bemoeilik.
Die metro het R72 miljard se uitstaande skuld en ‘n kommerwekkende R220 miljard se infrastruktuur-onderhoudsagterstand.
Dit is langtermyn-uitdagings wat besliste ingryping en verantwoordelike finansiële bestuur vereis.
Aanstaande week moet die raad ‘n voorgestelde R89,4 miljard-begroting vir die 2026/2027-finansiële jaar oorweeg. Hierdie bedrag bestaan uit sowat R81 miljard vir operasionele uitgawes en R7,5 miljard vir kapitaaluitgawes.
Die voorgestelde kapitaaluitgawe van R7,5 miljard kom glad nie naby daaraan om die metro se omvangryke infrastruktuur-uitdagings en onderhoudsbehoeftes aan te spreek nie.
Die VF Plus het voorgestel dat die metro aggressief uitstaande skuld invorder en ten minste 20% van die uitstaande R72 miljard se skuld verhaal, veral in gebiede waar invorderingskoerse laag bly. Dit sluit dele van Soweto in.
Daarbenewens behoort operasionele uitgawes met R10 miljard verminder te word met beter finansiële dissipline en doeltreffendheidsmaatreëls.
Hierdie benadering sal die metro in staat stel om sowat R24,4 miljard vir infrastruktuur-onderhoud en hernuwing in die volgende finansiële jaar toe te wys.
Die burgemeester het ook aangedui dat sowat 23 000 nuwe werksgeleenthede geskep is deur ‘n ekonomiese groeikoers van 1% in Johannesburg.
Hoewel werkskepping verwelkom word, bly dit onvoldoende gegewe die metro se werkloosheidskoers van 34,7% en bevolking van sowat 6.2 miljoen.
Op die infrastruktuurfront ervaar inwoners en belastingbetalers steeds onaanvaarbare toestande in baie voorstede. Herstelde slaggate verskyn gou weer weens swak vakmanskap. Verkeersligte en straatbeligting word nie deurlopend onderhou nie, terwyl voortdurende kragonderbrekings steeds deel van die daaglikse lewe van baie gemeenskappe is.
Hierdie uitdagings wys direk terug na die onderhoudsagterstand van R220 miljard wat oor baie jare opgebou is en steeds groei.
Dit is tyd dat die ANC-geleide administrasie die behoeftes van Johannesburg se inwoners en belastingbetalers eerste stel deur die infrastruktuur waarvoor belastingbetalers betaal, te herstel en behoorlik te onderhou.
Die ANC se onvermoë om behoorlike dienste te lewer, is ʼn duidelike aanduiding dat kiesers in die komende munisipale verkiesing op 4 November vir die VF Plus moet stem om van die ANC en onbekwame amptenare ontslae te raak.


