Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tzaneen-begroting: inwoners doelbewus mislei met tariefverhogings

Die finale geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en begroting vir die 2026/27-finansiële jaar vir die ANC-beheerde Tzaneen-plaaslike munisipaliteit, ontbloot dat inwoners doelbewus onder ʼn wanindruk gebring is tydens die openbare deelnameproses rakende tariefverhogings.

Op 28 Maart 2026 by Laerskool Tzaneen en 15 April 2026 te Letsitele is inwoners meegedeel dat water- en sanitasietariewe slegs met 3,7% en elektrisiteit met 9,1% sou styg. Die finale begroting wys egter ’n totaal ander prentjie:

• Water (Haenertsburg): Verhoging van 62,30%
• Water (Tzaneen, Letsitele en ander gebiede): Verhoging van 101,52%
• Sanitasie (Riool): Verhoging van 281,77%

Luidens die munisipaliteit se eie dokumente word hierdie ekstreme verhogings toegeskryf aan Lepelle Northern Water en die Mopani-distriksmunisipaliteit se tariefaanpassings asook “geassosieerde koste van dienslewering”.

Dit is geen regverdiging vir die misleiding nie. Inwoners is tydens openbare vergaderings doelbewus met verkeerde inligting mislei.

Die munisipaliteit het nie in goedertrou opgetree nie en het die verpligte openbare deelnameproses ondermyn.

Dit ondermyn die gees en vereistes van die Munisipale Stelselswet en die Munisipale Finansiële Bestuurswet wat deursigtigheid en egte konsultasie vereis.

Inwoners van Tzaneen leef reeds met swak dienslewering, gereelde wateronderbrekings en vervalle infrastruktuur.

Om sulke buitensporige tariefverhogings af te dwing nadat ’n veel laer verhoging belowe is, is moreel verkeerd en finansieel onhoubaar vir die meeste huishoudings.

Die VF Plus verwag van die munisipaliteit om die buitensporige tariefverhogings onmiddellik terug te trek en ʼn volledige en deursigtige verduideliking te gee oor waarom die finale tariewe so dramaties verskil van die syfers wat tydens die openbare deelnameprosesse in Maart en April 2026 aan inwoners voorgelê is.

Boonop moet die munisipaliteit ’n nuwe, behoorlike openbare deelnameproses volg voordat enige tariewe goedgekeur en geïmplementeer word, sodat inwoners ’n werklike geleentheid kry om ingeligte kommentaar te lewer.

Belastingbetalers verdien eerlike bestuur en ’n begroting wat op waarheid en deursigtigheid berus en nie misleiding nie.

Dit is duidelik dat die ANC in in staat is om Tzaneen behoorlik te bestuur tot voordeel van sy inwoners nie.

Kiesers moet op 4 November vir die VF Plus stem vir ʼn betroubare en eerlik administrasie. Dis ons tyd!

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.