Die VF Plus spreek sy ernstige kommer uit oor die voortdurende onsekerheid rondom pensioenariskortings op munisipale rekeninge in die Ekurhuleni-metro.
Verskeie bejaarde inwoners het hul rekeninge ontvang wat betaalbaar is teen 11 Augustus 2025 sonder die verwagte korting waarvoor hulle reeds aansoek gedoen het.
Ten spyte van formele navrae van die VF Plus aan die metro, is geen antwoord van die departement van finansies ontvang nie. Die enigste amptelike terugvoer tot dusver vanaf Ekurhuleni se algemene finansies en kliëntediens lui soos volg:
“Die stelsel was van 23 Junie tot 7 Julie 2025 van lyn weens jaarafsluitingsprosesse en die vaslegging van aansoeke het eers begin nadat die waardasierol gelaai is. As gevolg van die hoë volume aansoeke, is daar ‘n vertraging in verwerking. Goedgekeurde aansoeke sal die korting op rekeninge tussen Augustus en September 2025 aandui. Terugwerkende kredietinskrywings sal ook dienooreenkomstig toegepas word.”
Hierdie vertraging is totaal onaanvaarbaar. Pensioenarisse is van die mees kwesbare lede van die gemeenskap en hulle verdien beter diens. Die metro het weereens versuim om deursigtigheid, tydige kommunikasie en behoorlike administrasie te bied.
Die situasie kon vermy gewees het indien die metro nie pensionarisse gedwing het om voor 1 Julie heraansoek te doen vir korting nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk uit te oefen totdat hierdie saak opgelos is en bejaardes hul regmatige afslag ontvang.


