Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis aanspreeklikheid en deursigtigheid met mega-behuisingsprojekte in Ekurhuleni

Die wanbestuur van verskeie onvoltooide mega-behuisingsprojekte in die Ekurhuleni-metro kan nie langer voortduur nie.

Dié projekte wat geïnisieer is met die belofte om duisende behuisingseenhede te lewer en so die behuisingsnood te verlig, het tot dusver klaaglik misluk.

Een voorbeeld is die Tembisa-uitbreiding 25-projek waar R371 miljoen reeds bestee is terwyl die terrein verlate staan en inwoners sonder die beloofde behuising sit.

Die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, mnr. Kgopelo Holo, het die situasie toegeskryf aan ‘n gebrek aan befondsing wat nodig is om skade wat meer as twee jaar gelede deur vandalisme veroorsaak is, te herstel.

Tientalle mense het die projek gekaap en terselfdertyd vensters, dakke en elektriese kabels gesteel.

Die VF Plus stem saam met Holo dat hierdie nie ‘n geïsoleerde geval is nie en dit ook die tendens by ander mega-behuisingsprojekte in die metro is.

Dit is egter jammer dat mense nou moet wag totdat die stad R97 miljoen se befondsing van die Gautengse departement van menslike nedersettings ontvang om met die projekte voort te gaan.

Die Daggafontein-behuisingsprojek het in 2016 begin met planne om sowat 17 000 huise te lewer. Teen Mei 2023 was slegs die voorlopige infrastruktuur voltooi. Geen behuisingseenhede is gebou nie weens kontrakteurskwessies en gemeenskapsgeskille.

Die huidige stand van ontwikkelings is in teenstelling met die metro se visie wat uiteengesit word in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2022/23 – 2026/27-tydperk wat volhoubare menslike nedersettings en verbeterde lewenskwaliteit vir alle inwoners beklemtoon.

Die VF Plus vind hierdie situasie onaanvaarbaar.

Inwoners van Ekurhuleni verdien deursigtigheid en aanspreeklikheid rakende hierdie projekte.

Die VF Plus sal die saak na die Gautengse provinsie eskaleer om te verseker dat mense wat vir die projekte verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

Die party verwag dat daadwerklike stappe geneem word om die voortslepende behuisingskrisis in die metro aan te spreek.

Die ander beplande mega-behuisingsprojekte in Ekurhuleni is soos volg:

• John Dube Mega City (Duduza) – 10 531-wooneenhede
• Daggafontein Mega City (Springs) – 16 940-wooneenhede
• Leeuwpoort-geïntegreerde menslike nedersetting – 22 000-behuisingseenhede
• Chief Albert Luthuli Mega Housing Project (Benoni) – 1 839-gedienste erwe en 6 239 behuisingseenhede
• Tembisa-uitbreiding 25 – 3 510-maatskaplike behuisingseenhede
• Clayville-uitbreiding 45 – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Esselenpark – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Van Dykpark – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Brakpan Ou Ligging-uitbreiding 13 – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Palm Ridge-uitbreiding 10 en 12 – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Palmietfontein – Besonderhede nie beskikbaar nie
• Vosloorus Uitbreiding 9-mega-behuisingsprojek – 584 Hophuise en 70 maatskaplike behuisingseenhede.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.