Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se lopende Eskom-rekening van R180 miljoen is vir die eerste keer in sewe jaar ten volle betaal.
Ongelukkig kan Emfuleni nie die eer vir homself toeëien nie synde inwoners vanaf 1 Maart direk hul kragrekeninge aan Eskom oorbetaal.
Hierdie is ʼn klinkklare bewys dat Eskom se geld in die verlede in ʼn swart put van vermorsing beland het weens Emfuleni se wanbestuur.
Emfuleni se wanbetaling het veroorsaak dat hy die kragvoorsiener meer as R6 miljard skuld.
Dié reëling spruit uit ʼn hofbevel in Junie 2023 wat bepaal dat inwoners hul kragrekeninge direk aan Eskom moet betaal.
Die hofbevel was eers net op ondernemings van toepassing, maar vanaf 1 Maart vanjaar moes inwoners ook hul rekeninge direk aan Eskom oorbetaal.
Emfuleni het 76 000 rekeninghouers.
Die VF Plus loof inwoners wat bewys het dat hulle nie die probleem is wanneer dit kom by betalings aan Eskom nie.
Dit is te betwyfel of die ANC ooit daarin sal slaag om Emfuleni uit die moeras van wanbestuur te red.
Die enigste oplossing is om van die ANC by die stembus ontslae te raak.