Die VF Plus steun die aansoek vir die inwerkingstelling van ‘n stadsverbeteringsdistrik (SVD) in die Laer Tuine-gebied in Kaapstad en sal hom daarvoor beywer dat dit in meer gebiede regdeur die metro ingestel word.
Die Laer Tuine is die gebied tussen die middestad en die voorstedelike woonbuurte van Vredehoek, Oranjezicht en Bo-Tuine, insluitend die Kompanjiestuin.
Hierdie pro-aktiewe benadering sal dit moontlik maak om die dringende probleme in Laer Tuine wat in ‘n verslag van die stad uitgelig word, soos die oprigting van onwettige strukture en gepaardgaande hoë misdaadsyfers, aan te pak.
‘n Stadsverbeteringsdistrik (SVD) is ‘n bepaalde gebied waar eiendomseienaars bykomende tariewe bydra om aanvullende munisipale dienste vir daardie spesifieke gebied te finansier.
Dit geskied deur ‘n gemeenskapsgesteunde plan wat deur die stadsraad goedgekeur word vir ‘n aanvanklike tydperk van vyf jaar.
‘n Voorbeeld van die sukses hiervan is die noordelike woongebied Boston waar openbare veiligheidsbeamptes van die SVD onder meer drentelaars uit woongebiede hou deur proaktief die strate te patrolleer en informele strukture binne 24 uur deur wetstoepassingsbeamptes te laat afbreek.
Hierdie veiligheidsbeamptes inspekteer elke oggend ruimtes wat voorheen onwettig bewoon is om herbesetting te voorkom
Die beamptes se reaksietyd in die Bostonse SVD is gemiddeld 2 tot 3 minute wanneer inwoners hulp ontbied. Dit is in Augustus 2020 in werking gestel nadat 60% van die inwoners daarvoor gevra het.
Die VF Plus doen terselfdertyd ook ‘n beroep op nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat hulle by onwettige besetters skaar, om saam met die stad te werk om die haweloses eerder te help hervestig.
Dit sluit ‘n organisasie soos Ndifuna Ukwazi in wat homself definieer as ‘n “aktivistiese organisasie en regsentrum” wat die “voortbestaan van ruimtelike apartheid in Kaapstad uitdaag”.
Sulke organisasies het reeds miljoene rande bestee om die Stad Kaapstad hof toe te neem wanneer onwettige strukture afgebreek word.
Baie van die probleme met haweloses is gewortel in dwelm- en alkoholverslawing wat lei tot werkloosheid met mense wat kies om op straat te bly om hul dwelmmisbruik te vergemaklik.
Suid-Afrika se polisiediens het net een polisiebeampte vir elke 427 burgers (defenceWeb; 12 April 2024). Die internasionale norm volgens die Verenigde Nasies (VN) is een polisiebeampte vir elke 220 burgers.
Die VF Plus is daartoe verbind om die uitbreiding van stadsverbeteringsdistrikte regdeur die metro te steun om broodnodige sekuriteit, netheid en maatskaplike ondersteuningsdienste te bring na gebiede wat dit die nodigste het.


