Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Konsepregulasies oor vuurwapens vir private sekuriteitsmaatskappye sal Suid-Afrikaners meer weerloos laat teen misdaad

Striemende konsepregulasies betreffende vuurwapenbesit en -gebruik vir die private sekuriteitsbedryf in Suid-Afrika sal alle Suid-Afrikaners meer weerloos laat teen misdaad.

Die private sekuriteitsbedryf in Suid-Afrika is een van die grootstes in die wêreld en die enkele rede hiervoor is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sy plig versuim om die land se mense behoorlik teen misdaad te beskerm.

Die konsepregulasies is verlede Vrydag (28 Maart) in die Staatskoerant gepubliseer.

Luidens ‘n verslag van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie (10 Mei 2023) het die bedryf in 2023 sowat 2,56 miljoen geregistreerde sekuriteitsbeamptes gehad waarvan 586 000 aktief aan diens was by meer as 12 000 maatskappye.

Daarteenoor het die polisie in 2023 slegs 180 000 lede in diens gehad waarvan ‘n groot aantal nie-aktiewe polisiewerk doen, soos administratiewe personeel.

Ernstige geweldsmisdaad in Suid-Afrika is van die hoogste in die wêreld en daarom is dit gelyk ironies en tragies dat die polisie, wat grootliks sy plig versuim, nou ook die bedryf wat Suid-Afrikaners moet beskerm, aan bande wil lê.

Dit is wel belangrik om daarvan kennis te neem dat die voorstelle oor die bedryf in hierdie stadium nog net konsepregulasies is en nie uitvoerbare wetgewing of ‘n voorgestelde wysigingswet nie.

Dit is voorstelle in ‘n beginstadium wat gemik is op die private sekuriteitsindustrie en nie op private vuurwapeneienaars nie. Dit is tans in ‘n proses van openbare deelname waar alle rolspelers insette kan lewer voordat die konsepregulasies goedgekeur en in werking gestel word.

Gewone Suid-Afrikaanse burgers sal die meeste geraak word indien misdaadbestryding verder afgewater word en die VF Plus doen ‘n beroep op alle rolspelers om gebruik te maak van die openbare deelnameproses om hul insette te lewer.

Regulasies gee gevolg aan die bepalings van ‘n wet. Enige regulasie wat daarom strydig is met bestaande wetgewing is ongeldig en kan nie in werking gestel word nie. Daar is reeds ‘n oorregulering van die bedryf deur die staat.

Die regulasies beoog onder meer om vuurwapengebruik deur beamptes van private sekuriteitsmaatskappye in openbare ruimtes soos winkelsentrums, kerke en selfs huise te beperk en stel ongedefinieerde perke op ammunisie.

Dit wil ook private sekuriteitsmaatskappye se gebruik van minder dodelike vorms van wapens en ammunisie soos rubberkoeëls, waterkanonne en selfs skokgewere (tazers) verbied.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.