Ná volgehoue druk van die VF Plus en die gemeenskap van die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Morgenzon, Standerton) is opgraderings by die BB-kragsubstasie in Standerton begin.
Hierdie substasie voorsien krag aan groot dele van Standerton. Dit sluit in noodsaaklike infrastruktuur soos die Kieser-reservoir, die plaaslike hospitaal en brandweerstasie, gastehuise asook verskeie plaaslike sake-ondernemings en wonings.
Die skade aan dié substasie is hoofsaaklik veroorsaak deur vandalisme wat al langer as ‘n jaar gelede plaasgevind het. Die munisipaliteit het daarna probleme ondervind met die versekeringseis. Kritieke herstelwerk het as gevolg hiervan gesloer.
Die VF Plus het egter volgehoue druk toegepas en weekliks vergader met die munisipale bestuurder, mnr. Malosi Lamola, waarna die opgraderings nou wel gedoen word.
Alhoewel dié soort opgraderings tydelik ongerieflik vir die gemeenskap is, sal die langtermynplan groot verligting bring.
Die VF Plus sal aanhou om vir die gemeenskap op te staan om te verseker dat Standerton se inwoners die dienslewering ontvang waarvoor hulle betaal.