Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC en EFF werk saam om Bela-wetsontwerp oor nog ʼn hekkie te help

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys het van Dinsdag tot Vrydag van hierdie week opsygesit om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela Bill) klousule vir klousule deur te werk. Dié taak is egter teen laat Donderdagmiddag reeds afgehandel.

Dinsdag was dit nog duister vir die wetsontwerp. Die vergadering moes verdaag word nadat opposisiepartye dit uit ontevredenheid met die proses verlaat het. Die ANC was nie voltallig nie en daar was nie meer ‘n kworum teenwoordig nie.

Daar was Dinsdag ook ‘n ander atmosfeer in die vergadering. Die hoof van skoolregering in die departement van basiese onderwys, mnr. James Ndlebe, het elke klousule in besonderhede verduidelik.

Lede kon vrae vra en bedenkinge uitspreek, maar geen besluite is geneem nie. Personeel van die departement het aantekeninge gemaak en het tot 28 Augustus om ‘n sogenaamde A-lys van nuwe klousules op te stel.

Die volgende stap sal wees dat die komitee elke klousule op die betrokke lys deurgaan en daaroor stem. Wanneer dít afgehandel is, kan die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering oorweeg word.

Daarna moet elke provinsiale wetgewer dit oorweeg voordat dit in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oorweeg sal word. Daarna kort nog net die president se handtekening.

Na aanleiding van die openbare deelname, is twee belangrike klousules geskrap: Die een wat alkoholverkope buite skoolure tydens funksies op die skoolterrein sou moontlik maak; en ‘n verpligte belangeverklaring deur elke lid van elke skoolbeheerliggaam in Suid-Afrika.

Ander omstrede klousules is die wat provinsiale departementshoofde finale seggenskap oor skole se taal- en toelatingsbeleid gee, sowel as die klousule oor tuisskole.

In die bespreking oor hierdie klousules het ANC- en EFF-lede saamgestaan asof hulle deel van dieselfde koukus is. Die sentraliserende aard hiervan val reg in hul kraal, terwyl die VF Plus, ACDP en DA telkens daarteen standpunt ingeneem het.

Ndlebe het telkens geantwoord dat elke besluit met uitgebreide raadpleging gepaard sal gaan. Hy ontken dat skoolbeheerliggame mag verloor en sê dat uitsprake van die Grondwethof bloot deur hierdie klousules deel van die wet word.

Die VF Plus sal alle parlementêre kanale volg om hierdie wetsontwerp te keer. Slegs as dit finaal misluk, sal buiteparlementêre stappe oorweeg word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.