Die polisie se kwartaallikse misdaadstatistiek, soos dié wat vandag uitgereik is, is ʼn goeie barometer van die ANC se mislukking as regering waar korrupsie gedy en die ekonomie sodanig vernietig is dat dit die perfekte teelaarde vir misdaad skep.
Die statistiek vir April tot Junie 2023 teen dieselfde kwartaal verlede jaar, wys ook ʼn onrusbarende toename in moord en geweld waar vroue en kinders die slagoffers is.
Moord op vroue het toegeneem met 4,7%, poging tot moord met 20,2% en ernstige aanranding met 9,7%.
ʼn Vergelyking teenoor net drie jaar gelede wys bykans ʼn verdubbeling in al die kategorieë wat ʼn duidelike aanduiding is dat die regering se pogings om geslagsgeweld te bestry, geen uitwerking het nie.
In 2021 (April tot Junie) is 559 vroue vermoor teenoor vanjaar se 895, poging tot moord was 879 teenoor vanjaar se 1 417 en ernstige aanranding was 7 585 teenoor vanjaar se 12 872.
Die situasie is selfs erger wat kinders aanbetref. Net teenoor verlede jaar het moord op kinders toegeneem met 20,6% en poging tot moord met 15,3%.
Plaasmoorde het ook skerp toegeneem met 14 moorde vanjaar teen 10 in dieselfde kwartaal verlede jaar.
Die algemene syfers fluktueer en sommige kategorieë wys wel ʼn effense afname soos moord (3,1%), seksuele oortredings (2%) verkragting (2,8%), motorkaping (6,4%) en rooftogte by ondernemings (14%).
Die afname in motorkapings en rooftogte by ondernemings, wat deel vorm van die gevreesde trio-misdaagroep, moet verwelkom word. Die derde, rooftogte by woonhuise, is egter op met 4,9% teenoor 2022.
Waar moord en verkragting effens afgeneem het, was daar ʼn skerp toename in al die ander geweldsmisdade. Dit sluit in poging tot moord (7%), ernstige aanranding (8,2%) en roof (7,9%)
Verlede jaar is 27 066 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika.
Die oorhoofse prentjie van misdaad in Suid-Afrika onder die ANC as regering het oor die jare gestyg tot op vlakke waar die wêreld vir die eerste keer werklik daarvan begin kennis neem.
Dit skets veral ʼn onrusbarende beeld van ʼn gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.
Miljoene mense wat werkloos is, wend hulle noodwendig tot misdaad om te oorleef terwyl geïnstitusionaliseerde korrupsie onder ANC-kaders neerslag gevind het op elke vlak van die land se sosiale konstruk.
ʼn Artikel in The Washington Post (29 Maart 2023; “South Africa Is on the Road to Becoming a Failed State”) word geskryf dat lande regoor die wêreld hul eie probleme het, maar dat dit in Suid-Afrika van “sleg na grusaam” gaan.
“Met korrupsie en diefstal wat tot in elke hoek van die ekonomie sypel, is dit geen wonder dat werkloosheid in Suid-Afrika, veral onder jong mense, verskriklik toegeneem het nie. Die ekonomie krimp en kapitaal vloei uit die land. Werkloosheid is byna 33% en sal waarskynlik erger word…”
Wat in hiedie artikel genoem word, is die siekte van ʼn ANC-regering wat ʼn “failed state” geraak het. Die misdaadsyfers is ʼn aanduiding van die simptome.