fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dring aan op antwoorde oor korrupsiebewerings teen voormalige Noordwes-premier, Supra Mahumapelo

Die VF Plus wil weet of die Valke en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoeke doen na die beweerde betrokkenheid van die voormalige Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, by grootskaalse korrupsie en bedrog in die Noordwes-provinsie.

Tydens ‘n vergadering van die parlementêre ad hoc-komitee oor die Artikel 100-ingryping in Noordwes, het die Valke en die SOE voorleggings gedoen oor die vordering met korrupsie-ondersoeke in dié provinsie.

Die VF Plus het uitgewys dat daar ten spyte van goed gedokumenteerde en gedetailleerde mediaberigte van beweerde ongerymdhede waarby Mahumapelo direk betrek word, daar skynbaar nog geen vordering met ondersoeke hieroor gemaak is nie.

Die VF Plus het daarop aangedring dat enige ondersoeke teen Mahumapelo bekend gemaak word en dat die spesifieke klagte ook genoem word.

Opspraakwekkende sake waarby Mahumapelo betrek word, is onder meer die “skenking” van R100 miljoen se skaars wild aan ‘n sogenaamde bemagtigingsmaatskappy onder die beheer van ‘n voormalige ANC-burgemeester van Rustenburg, Matthew Wolmarans en ‘n bekende tenderpreneur en sakevriend, Mike de Kock. Mahumapelo het destyds die transaksie op De Kock se plaas aangekondig.

Die VF Plus het voorts sy kommer daaroor uitgespreek dat die sake wat tot dusver ondersoek word, ‘n geïmpliseerde geldwaarde van slegs R360 miljoen het, terwyl die Ouditeur-Generaal (OG) reeds die afgelope drie jaar meer as R3 miljard se ongemagtigde en onreëlmatige besteding in Noordwes uitgewys het.

Die VF Plus sal voortgaan om hierdie ondersoeke te monitor en sal daarop aandring dat daar tot die kern van hierdie klaarblyklike korrupsie-sameswering deurgedring word. Hierdie straffelose plundering van belastingbetalersgeld moet eenvoudig aan die kaak gestel word.

Die ANC-regering sal moet leer dat daar gevolge is vir sy dade en die VF Plus sal voortgaan om te sorg dat wandade en korrupsie nie bloot onder die mat ingevee word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.