Die VF Plus het gister mnr. Johannes de Lange, boer van Kirkwood in die Oos-Kaap, in die hospitaal besoek nadat ses persone hom verlede week op sy plaas aangeval en beseer het.
Die party is verlig dat mnr. De Lange mooi aansterk en binnekort sal kan terugkeer na sy plaas en gesin.
Die VF Plus is besorg oor die Oos-Kaap se boerdery-gemeenskap en is dit eens dat roekelose uitsprake deur sekere politici en politieke partye oor grond wat gesteel is en onteiening sonder vergoeding, gesien kan word as aanhitsing tot plaasaanvalle en -moorde.
Plaasaanvalle, roof en veediefstal het ‘n enorme impak op die Oos-Kaap se voedselsekuriteit, ekonomie en werkskepping.
Sommige boere staak bloot hul boerderybedrywighede en dit lei tot groter werkloosheid in landelike gebiede.
Dit bring ook mee dat plaaslike produksie aangevul moet word vanaf ander dele van die land wat die prys van goedere opjaag.
Die VF Plus moedig inwoners van landelike gebiede aan om by hulle plaaslike buurt-, plaaswagte en gemeenskappolisiëringsforums aan te sluit en hul persoonlike sekuriteitsmaatreëls te verskerp.
Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om die veiligheid van veral inwoners van landelike gebiede te prioritiseer.