Rooi ligte flikker vir die Gauteng-wetgewer se e-regeringsdepartement nadat die ouditeur-generaal (OG) bevind het R354 miljoen is onreëlmatig bestee op uitgawes met betrekking tot die Gauteng Breëband Netwerk-projek (GBN-projek), e-posdienste en sekuriteit.
Dit is ironies dat hierdie onreëlmatige uitgawes aangegaan is terwyl die sagteware wat die e-regering-afdeling gebruik, minderwaardige gratis sagteware is wat operasionele probleme kan veroorsaak.
Daar is ook bevind dat die webblad se gebruikersdata nie verhaal kan word nie en dit voldoen dus nie aan ouditvereistes nie. Dit is daarom duidelik dat die departement nie na behore funksioneer en bestuur word nie.
Die ongewone hoë persentasie vakante poste van senior- en bestuursposisies wat vir lang periodes deur waarnemende personeel gevul word, het ongetwyfeld ‘n groot aandeel in die gekwalifiseerde bevindinge wat die OG gemaak het.
Verder is die 'Email as a Service’-kontrak onreëlmatig verleng weens swak beplanning deur die huidige bestuur.
Volgens die departement se terugvoer is daar wel verskeie ondersoeke gedoen, maar die VF Plus hou vol dat indien senior posisies wel betyds gevul is met bevoegde personeel, sou die OG se bevindinge nie nodig gewees het nie en die wanbesteding sou nie plaasgevind het nie.
Die VF Plus is van mening dat indien die e-regeringdepartement nie daadwerklik optree om die GBN-projek en ander dienste se werksaamhede te verseker nie, die dienste ineen kan stort.
Voortslepende probleme met die stelsel het 'n negatiewe invloed op minderbevoorregtes en gemeenskappe wat geen ander toegang tot internet het nie.
Biblioteke en ander regeringsinstansies bied hierdie internetdiens aan die publiek. Dit is veral studente, skoolkinders en ouers wat aangewese is op hierdie gerief en benadeel word wanneer dienste nie na behore funksioneer nie.
Gemeenskappe kan nie van die geleentheid ontneem word om noodsaaklike korrespondensie te ontvang en daarom nie vir skoolprojekte of eksamens voor te berei nie.
Die VF Plus is bewus van dringende aksieplanne wat deur die departement in werking gestel is om die departement van ondergang te red en sal die situasie monitor om seker te maak dat die voorgestelde omkeerplan noukeurig gevolg word om verdere verkwisting van belastinggeld te voorkom.


