Die toenemende voorvalle van soms gewelddadige protesaksies op openbare paaie in Noordwes is kommerwekkend.
In die jongste voorval het protesgangers die N12-hoofweg by Potchefstroom vanoggend met brandende bande versper.
Die VF Plus wil graag die polisie en plaaslike wetstoepassers bedank vir hul vinnige optrede om op ʼn gekoördineerde wyse hierdie en ander onlangse voorvalle van openbare protes te ontlont.
Dit is egter belangrik dat motoriste in Noordwes waaksaam bly om te voorkom dat hulle onnodig in gevaarlike situasies beland.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die publiek om aan te sluit by veiligheidsmoniteringsgroepe om op hoogte te bly van sulke protesaksies en om inligting hieroor wyd te versprei.
Dit sal die taak van die veiligheidsowerhede ook vergemaklik.
Die VF Plus sal voortgaan om die situasie te monitor en die Noordwes-gemeenskap ingelig hou.