Die VF Plus het ‘n mosie ingedien by die speaker van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM), Eugene Johnson, met die versoek dat alle nuwe bouplanne ‘n verpligte wateropgaringsvermoë insluit.
Die voorstel bepaal dat alle nuwe huise ten minste een 10 000-liter watertenk of twee 5 000-liter tenks, gekoppel aan dakgeute moet hê vir die opvang van reënwater.
Hierdie stap is noodsaaklik in ‘n tyd waarin die NMBM se waterverbruik tans op 370 miljoen liter per dag staan, wat 90 miljoen liter bo die teikengebruik van 280 miljoen liter per dag is.
Hierdie kritieke tekort beklemtoon die dringende noodsaaklikheid vir volhoubare waterbewaringsmaatreëls.
Die opvang van reënwater is ‘n praktiese en doeltreffende manier om waterrekeninge te verminder en skaars waterbronne te bewaar.
Reënwater is vry van die chemikalieë wat gebruik word om munisipale water te behandel en is ideaal vir tuinbesproeiing en vir huishoudelike doeleindes.
Die waterkrisis in die NMBM is nie net te wyte aan ‘n tekort aan waterbronne nie, maar ook aan swak bestuur en beplanning.
Die plaaslike regering moet ‘n strategiese en volhoubare benadering volg om hierdie kwessie aan te spreek deur:
• Aanpassing by klimaatsverandering.
• Herstel van verouderde infrastruktuur.
• Beskerming van waterskeidings – ʼn natuurlike landvorm, soos ’n berg of hoogland, wat reënwater opvang en na verskeie riviere of damme afvoer.
Die VF Plus glo dat samewerking tussen die plaaslike regering en gemeenskappe noodsaaklik is om hierdie uitdagings aan te pak. Water moet nie net as ‘n hulpbron bestuur word nie, maar as ‘n lewenslyn vir toekomstige geslagte.
Hierdie mosie poog om waterbewaring as ‘n standaard praktyk in munisipale beplanning te vestig en ‘n verantwoordelike benadering tot watergebruik aan te moedig.


