Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, Nersa, het Eskom se aansoek om tariewe in die volgende drie finansiële jare met onderskeidelik 36,15%; 11,81%; en 9,1% te verhoog, verwerp.
In die plek daarvan is 12,74%; 5,36%; en 6,19% goedgekeur. Hoewel die verminderde verhoging welkom word, sal verbruikers steeds daaronder ly. Vanjaar se verhoging is meer as drie keer die inflasiekoers.
Die dilemma waarin Eskom homself bevind, is die hoë koste van sy bedryf en om skuld te diens, terwyl onafhanklike kragopwekking steeds goedkoper word.
Dit beteken dat Eskom toenemend betalende kliënte verloor, maar steeds die verpligting het om basislading aan die kragnetwerk te voorsien en diegene wat nié hul eie stelsels kan installeer nie, te voorsien.
Die VF Plus moedig individuele verbruikers en gemeenskappe aan om hande te vat om alternatiewe opwekking te installeer.
Die probleme binne Eskom, insluitend misdadige benadeling van die staatsonderneming deur werknemers, gaan klaarblyklik voort. Dit kan nie oor die langtermyn volgehou word nie en verbruikers moet hulleself Eskom-bestand maak.