Die VF Plus moedig die inwoners van die Tshwane-metro aan om deel te neem aan die openbare deelnameproses rakende ‘n bywet van die departement van paaie en vervoer oor openbare- en nie-gemotoriseerde vervoer.
Die openbare deelnameproses is belangrik om te verseker dat die metro se vervoerstruktuur aan die behoeftes van huidige en toekomstige inwoners voldoen.
Die doel van hierdie proses is tweeledig:
Eerstens om die bywet wat oorspronklik in 2025 opgestel is, finaal te voltooi met inagneming van inwoners se huidige behoeftes en tweedens om inwoners die geleentheid te bied om insette te lewer rakende regulasies wat hulle direk raak.
Van die kwessies van die hersiene strategie is:
• Padinfrastruktuur en openbare vervoer: Volskaalse instandhouding is nodig.
• Bewaring van die omgewing: ‘n Skoon, veilige en volhoubare omgewing is ʼn prioriteit.
• Gesondheid: ‘n Vervoerstelsel wat na die behoeftes van die gemeenskap omsien.
• Uitstekende diens aan die publiek: Verantwoordbaarheid en deursigtigheid in die openbare sektor moet versterk word.
• Modernisering: Digitale hulpmiddels is nodig om vervoerdienste te verbeter.
• Ekonomiese groei: ʼn ondernemings-vriendelike vervoersektor moet geskep word wat werkverskaffing en ontwikkeling bevorder.
Ten spyte daarvan dat die konsep-bywet reeds nege jaar gelede goedgekeur is, het die afwesigheid van plasing in die Staatskoerant veroorsaak dat die metro steeds met ‘n verouderde regulatoriese raamwerk opgesaal is. Dit moet reggestel word.
Openbare deelname bly die hoeksteen van hierdie proses. Deur inwoners, vervoer-operateurs en ander belanghebbendes te betrek, kan almal se belange in ag geneem word.
Die VF Plus is van mening dat strenger wetstoepassing noodsaaklik is. ‘n Bywet sonder behoorlike wetstoepassing is nutteloos. Die VF Plus steun:
• Algemene wetstoepassingsprosesse, spesiale ondersoeke en vervolgings.
• Sigbare polisiëring en streng maatreëls.
• ’n Strafpuntstelsel vir bestuurders en operateurs.
• Toesig en sekuriteitsmonitering by vervoersentrums.
• Aanwesigheid van wetstoepassers op paaie.
• Boetes vir operateurs wat sekuriteit en veiligheid verwaarloos.
• Versterkte wetstoepassing in die openbare vervoersektor.
• Verbeterde skuldbestuur, insluitend die beslaglegging van voertuie vir wanbetaling.
Die VF Plus moedig alle inwoners en belanghebbendes aan om aktief aan die proses deel te neem om by te dra tot die totstandkoming van ‘n vervoerstelsel wat veiliger, doeltreffender en werklik verteenwoordigend van die mense se behoeftes is.