Die VF Plus was van plan om vandag strafregtelike klagte by die polisiekantoor in Brooklyn, Pretoria, in te dien teen amptenare wat betrokke was by beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders vir die huur van eiendomspersele in Pelgrimsrus, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid. Die stasiebevelvoerder het na bespreking van die klag met die VF Plus egter geadviseer dat die klag vinniger hanteer sal word deur dit direk by die Nelspruitse polisiekantoor in te dien. Die VF Plus sal komende Maandag die klag formeel by die Nelspruitse SAPD indien.
Volgens adv. Alberts is dit die uitvloeisel van ‘n klag wat die VF Plus op 6 Julie verlede jaar by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het namens 17 eienaars van sake-ondernemings op die geskiedkundige myndorp wie se huur op kort kennisgewing opgeskort is.
Die persone is net 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim sodat die nuwe huurders kon oorneem. Nuwe kontrakte is daarna glo teen “belaglik lae huurgeld” aan die nuwe huurders toegeken.
Die tenderproses het volgens die bevindings van die OB verskeie onreëlmatighede bevat en die VF Plus het dienooreenkomstig klagte van bedrog en korrupsie teen die betrokke amptenare en die tenderaars, wat in die OB se verslag gemeld word, ingedien.
Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het intussen die omstrede tenderproses op aanbeveling van die OB geskrap en dit moet van voor af gedoen word.
Adv. Alberts sê die aangeleentheid is ‘n groot oorwinning vir sakelui van die dorp, en ‘n bewys dat die VF Plus vir die regte van gewone landsburger opstaan. Hy sê die nuwe tenderproses sal ook noukeurig dopgehou word om seker te maak te verloop eerlik en deursigtig.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403