Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag in teen Tshwane-speaker by OB

Die VF Plus het ’n klag by die openbare beskermer (OB) ingedien teen die speaker van die Tshwane-metroraad, Mncedi Ndzwanana.

Dit is gedoen om aanspreeklikheid te verseker nadat hy weer daarvan beskuldig word dat hy demokratiese prosesse in die metro ondermyn het.

Die klag volg op die dringende hofaansoek wat tans voor die Gautengse afdeling van die hooggeregshof dien oor die skorsing van die stadsbestuurder, Johann Mettler.

Die VF Plus steun hierdie regstappe, maar glo dat ’n parallelle proses by die OB nodig is om moontlike politieke inmenging en die optrede van individuele raadslede te ondersoek.

Die klag is gerig teen speaker Ndzwanana én die raadslede wat die besluit teen Mettler gesteun het. Die VF Plus wil hê dat elke raadslid wat by die besluit betrokke was, persoonlik aanspreeklik gehou word.

Verder sal die VF Plus ingevolge artikel 32 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) daarna streef om enige finansiële verlies of regskoste uit die persoonlike bates van die verantwoordelike raadslede te verhaal.

Die hooggeregshof het reeds in 2023 bevind dat Ndzwanana irrasioneel en buite sy bevoegdhede opgetree het toe hy mosies van wantroue herhaaldelik afgekeur het. Die hof het toé beslis dat sy optrede die onpartydigheid van sy amp in gedrang gebring het en die institusionele integriteit van die raad ondermyn het.

Die huidige hofaansoek spruit voort uit die spesiale raadsvergadering van 9 Julie 2026. Volgens die hofstukke het die raad aanvanklik met 95 stemme teenoor 92 teen die skorsing van Mettler gestem. Nadat die uitslag aangekondig is, het die speaker na bewering die stemme van 13 opposisieraadslede met terugwerkende krag uitgesluit, waardeur die uitslag gewysig is.

Nóg munisipale wetgewing nóg die raad se staande reëls gee ’n speaker die mag om ’n afgehandelde stemming op dié wyse te hersien.

Volgens VF Plus dui hierdie bewerings, indien die hof dit bevestig, op ’n kommerwekkende patroon.

Die party sal die saak noukeurig volg om te verseker dat demokratiese prosesse en die oppergesag van die reg gehandhaaf word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.