Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

MRK-verslag: Kouga-rioolwerke faal en bedreig openbare gesondheid

Die menseregtekommissie (MRK) se ondersoekverslag oor rioolbesoedeling en die gehalte van ontspanningswater in die Oos-Kaap bevestig die ernstige probleme wat die VF Plus en inwoners van die Kouga-plaaslike munisipaliteit lank reeds uitwys.

Die verslag toon duidelik dat die munisipaliteit se rioolwaterinfrastruktuur faal en dat hierdie tekortkominge nie net die omgewing bedreig nie, maar ook ’n direkte gevaar vir openbare gesondheid inhou.

Die verslag toon dat die rioolwaterbehandelingswerke by Jeffreysbaai en KwaNomzamo (Humansdorp) nie deurlopend aan die wettige standaarde voldoen nie.

By beide werke bly E. coli- en fekale kolivorme-vlakke in die finale uitvloei bo die toegelate limiete. Dit bedreig die Swartrivier, die Seekoeiriviermonding, die Astonbaai-kuslyn en omliggende ontspanningsgebiede.

Inwoners, besoekers, vissers, branderplankryers en kinders het die reg om te weet wanneer die water onveilig is.

Die probleem is nie nuut nie. Inwoners kla al jare oor rioolstorting, reuke, besoedeling en swak watergehalte. Vorige verslae, insluitend dié van die openbare beskermer (OB), het reeds tekortkominge uitgewys, maar nakoming ontbreek steeds.

Dit gaan nie net oor die omgewing nie, maar oor openbare gesondheid, toerisme, plaaslike ondernemings en grondwetlike regte. Inwoners betaal tariewe en verdien doeltreffende, veilige dienste.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die Kouga-munisipaliteit om:

• Onmiddellik ’n omvattende rehabilitasieplan vir beide behandelingswerke te implementeer
• Gereelde en deursigtige watergehalteverslae te publiseer
• Doeltreffende waarskuwingstelsels in plek te stel wanneer water onveilig is
• Instandhouding, sekuriteit, rugsteunkrag en behandelingskapasiteit te prioritiseer
• Duidelike tydlyne en aanspreeklikheid vir opgraderings te verskaf en
• met onafhanklike kundiges saam te werk om wetlike standaarde te bereik en te handhaaf.

Sommige opgraderings het wel plaasgevind, maar die onderliggende probleem is nog nie opgelos nie. Inwoners wil meetbare resultate sien – nie net beloftes nie.

Kouga se riviere, riviermondings en kuslyn is kosbare bates. Die VF Plus sal voortgaan om die munisipaliteit verantwoordelik te hou vir bekwame bestuur en skoon, veilige water.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.