Inwoners van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat word reeds langer as ’n maand aan hul eie lot oorgelaat weens ’n staking van munisipale werkers wat nog nie hul salarisse ontvang het nie.
Die staking het dienslewering feitlik tot ’n totale stilstand gebring.
Munisipale kantore is gesluit, finansiële transaksies kan nie behoorlik plaasvind nie en inwoners het geen toegang tot die basiese dienste waarop hulle geregtig is nie.
Inwoners moet noodgedwonge self plan maak met water-, krag- en rioolprobleme deur private kontrakteurs te nader om noodsaaklike herstelwerk te doen.
In Winburg sit inwoners reeds langer as ’n maand sonder betroubare watertoevoer nadat infrastruktuur by die dorp se waterwerke beskadig is. Inwoners het self probeer om die probleem op te los, maar die gebrek aan munisipale ondersteuning bemoeilik enige herstelproses.
In Theunissen en Brandfort sit inwoners daagliks met kragonderbrekings, rioollekkasies en gebrekkige vullisverwydering, met geen munisipale ondersteuning om die probleme op te los nie.
Die VF Plus sal die krisis in die provinsiale portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aanspreek en onmiddellike ingryping versoek.
Die provinsiale regering moet antwoorde gee oor hoe hy dienslewering gaan herstel en die munisipaliteit aanspreeklik gaan hou om Masilonyana weer funksioneel te maak.
In hierdie verkiesing kan inwoners kies om te stem vir raadslede wat verantwoordelikheid sal aanvaar, korrupsie en wanbestuur aanspreek en werk om die munisipaliteit reg te ruk.
Stem VF Plus sodat Masilonyana weer ’n munisipaliteit kan word waar basiese dienste gelewer word en inwoners se belange eerste gestel word.


