Die VF Plus het ʼn klag ingedien by die polisie teen raadslede van grootliks die ANC wat tydens ʼn raadsvergadering van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) die raadsaal gevandaliseer het.
Stoele en tafels is omgegooi, daar is gedans op tafeldoeke wat op die vloer gegooi is en water is op rekenaars en selfone uitgegooi. Van die tafels en stoele is gebreek.
Chaos het uitgebreek kort voor ʼn wantrouemosie teen die ANC-burgemeester, Sipho Radebe, sou dien.
Dié mosie is ingedien in terme van die Munisipale Finansiële Bestuurswet omdat dienslewering in Emfuleni onder sy bestuur ineengestort het.
Dienslewering is minimaal terwyl inwoners hul uitstaande krag- en waterrekeninge nou direk aan Eskom en Randwater moet betaal. Dit beteken geen inkomste vir die munisipaliteit nie.
Die speaker, Sibongile Soxusa, het vergeefs die vergadering tot kalmte probeer roep en haar lyfwagte moes haar wegneem ná dreigemente van sommige raadslede.
Die VF Plus gaan ook ʼn klag by die speaker indien teen die raadslede wat hulself aan vandalisering skuldig gemaak het.
Volgens die gedragskode vir raadslede mag ʼn raadslid onder geen omstandighede munisipale eiendom beskadig nie.
Die VF Plus sal nie hierdie tipe optrede duld nie, veral nie van ampsdraers wat ʼn leiersrol in die samelewing speel en as voorbeeld moet dien nie.