Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus bring oorsigbesoek aan Randfontein – LUR moet ingryp by verval

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Gogta), Lebogang Maile, versoek om by Randfontein in te gryp en ‘n oplossing te help vind vir dié dorp se onbegaanbare paaie en riool wat by mangate uitvloei.

Die VF Plus het ‘n oorsigbesoek aan die dorp gebring nadat die party oorval is van klagtes van inwoners wat besorg is oor gevaarlike slaggate, motors wat beskadig word deur padoppervlaktes wat verkrummel en riool wat deur persele vloei.

Die Randwest-plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) se benarde finansiële situasie en vinnige agteruitgang is niks nuut vir die LUR nie. Die party het Maile by vele geleenthede versoek om ag te slaan op die wanbestuur van die munisipaliteit en ‘n aksieplan saam te stel om die munisipaliteit van totale bankrotskap te red.

Die VF Plus het twee jaar gelede ook in reaksie op klagtes van die gemeenskap ‘n oorsigbesoek aan die gebied gebring en het toe reeds die munisipaliteit se probleme onder die aandag van die wetgewer se Cogta-komitee gebring.

Dit is onrusbarend dat ‘n groot aantal probleme wat vroeër aan die munisipaliteit en Cogta uitgewys is, steeds nie aangespreek is nie. Die situasie het sedertdien versleg.

In Aloeweg, Greenhills, stroom rioolwater reeds ‘n jaar lank uit ‘n mangat op die sypaadjie deur inwoners se erwe wat uiteindelik in ‘n vleiland uitvloei.

Die Gautengse wetgewer kan nie langer onbetrokke wees nie en sal moet optree teen plaaslike regerings en amptenare wat hul plig versuim om infrastruktuur in stand te hou en die veiligheid en gesondheid van inwoners ondermyn.

Die onbevoegdheid, wanadministrasie en korrupsie van munisipaliteite kan nie langer geduld word en kiesers het met die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar die geleentheid om van die onbevoegde ANC in munisipaliteite ontslae te raak en hom te vervang met ‘n verantwoordelike munisipale regering.

Die VF Plus is ook ‘n voorstander van gedesentraliseerde plaaslike regering en die afwenteling van mag so na as moontlik aan die gemeenskap deur sub-rade en kleiner munisipaliteite waar inwoners se belastinggeld in hul omgewing aangewend kan word vir behoorlike dienslewering en instandhouding van infrastruktuur.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.