fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom hooggeregshof-bevel teen onwettige grondbesetters by Potchefstroom

Die VF Plus verwelkom die hofbevel wat Vrydag in die hooggeregshof in Mahikeng uitgereik is waarvolgens grondbesetters in die Potchefstroom-omgewing belet word om met hul onwettige optrede voort te gaan.

Die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) en die departement van landelike ontwikkeling het die hof op ‘n dringende grondslag genader nadat groepe mense sedert Dinsdag op onder meer landbougrond by Potchefstroom toegesak het. Hulle het begin erwe uitmeet en sink-strukture opgerig.

Die bevel het ‘n keerdatum van 11 Februarie 2021 waar die respondente dan hul saak kan stel en die hof dan bepaal of die tydelike bevel bekragtig moet word. Die munisipaliteit en die departement sal egter op dieselfde datum aansoek doen dat die bevel permanent gemaak word en dat ‘n uitsettingsbevel teen die besetters uitgereik word.

Hierdie gebeure volg onder meer nadat die VF Plus reeds Dinsdagoggend vroeg ingegryp het en die owerhede van die onwettige grondbesetting ingelig het. Die VF Plus het deurlopend druk toegepas en ook die departement bygestaan om klagte in te dien by die polisie teen die besetters en diegene wat hulle tot onwettige optrede aangehits het.

Die skynbare betrokkenheid van senior ANC-raadslede by die grondbesetting word ook ondersoek.

Die VF Plus sal voortgaan om die situasie te monitor om te verseker dat die owerhede ferm optree teen diegene wat met hul roekelose optrede die munisipaliteit destabiliseer en die plaaslike ekonomie bedreig.

Die VF Plus bedank die gemeenskapsveiligheidstrukture vir hul volgehoue teenwoordigheid.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.