fbpx
Vryheidsfront Plus

Dwang op onafhanklike skole om te sluit sal onwettig wees

Mnr. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sal die perke van sy mag oorskry indien hy die onafhanklike skool Helpmekaar Kollege in Johannesburg, wil dwing om die departement van basiese onderwys se nuwe kalender te volg. Lesufi het aangekondig dat hy die skool vandag gaan besoek nadat leerlinge na bewering aangesê is om vandag by die skool aan te meld.

Tydens die mediakonferensie waar die heropening van skole vir kinders na 15 Februarie uitgestel is, is die departement uitdruklik gevra wat die posisie met onafhanklike skole is wat reeds geopen het.

Die antwoord was tweeledig: Gesprekke is met twee verenigings vir onafhanklike skole gevoer. Hulle het aanvaar dat skole gesluit moet bly en om die besluit aan hul lidskole oor te dra. Aan die ander kant is uitdruklik gestel dat onafhanklike skole oortuig moet word, maar nie gedwing kan word om toe te bly nie. Daar is ook geen verwysing na onafhanklike skole wat nie lid van een van die twee verenigings is nie.

Intussen is die gewysigde skoolkalender deur die departement van basiese onderwys gepubliseer. Dit lui dat die nuwe datums vir die heropening van onafhanklike skole sal wissel volgens die kalender wat hulle volg.

Hoewel die departement dus poog om dit te laat lyk asof onafhanklike skole se enigste keuse is om met die nuwe kalender in te val, is dit nie korrek nie. Lesufi se beplande besoek aan Helpmekaar Kollege lyk of dit deel van hierdie program van misleiding en intimidasie is.

Volgens die VF Plus is dit in belang van goeie onderwys dat alle skole wat veilig kan heropen, toegelaat moet word om dit te doen. Daar kan geargumenteer word dat die departement van basiese onderwys gesag oor openbare skole kan uitoefen, maar vir onafhanklike skole geld dit bepaald nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.