Die vermindering van watervloei na Secunda in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) is die direkte oorsaak van wanbetaling aan Randwater. Na bewering het die aangepaste Covid-19-inperkingsregulasies het ook daartoe bygedra dat die munisipaliteit nie sy rekening vereffen het nie.
Met dié dat Secunda ook as ‘n potensiële Covid-19-brandpunt gelys is, is dit vir die VF Plus baie belangrik dat die nodige gesondheidsprotokolle die hoogste prioriteit moet geniet. Dit is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om skoon lopende water aan sy inwoners te voorsien.
Die VF Plus lê die waterprobleme wat die inwoners nou ervaar, voor die deur van Randwater en die munisipaliteit. Dit is duidelik dat die belastingbetalende inwoners weereens die slagoffers van wanadministrasie en onsuksesvolle onderhandelinge tussen die twee instansies is.
In ‘n poging om die saak te beredder, het die VF Plus saamgewerk met inwoners wat toegang tot vars water het om water vir huishoudelike gebruik aan mense in nood te voorsien. Hierdie poging is net tydelik van aard en die probleem moet permanent opgelos word.
Vir die VF Plus is dit duidelik dat die ANC kleitrap met die bestuur van die Govan Mbeki-munisipaliteit en sukkel om sy verantwoordelikhede na te kom. Alhoewel die munisipaliteit onder administrasie geplaas is, kon die ANC tot dusver nie daarin slaag om die nodige fondse in te samel om sy skuld by Randwater te delg nie.
Mnr. Werner Weber, VF Plus-lid in die provinsiale wetgewer, sal met die LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Mandla Msibi, in gesprek tree en hom versoek om die probleem onmiddellik te ondersoek en ‘n werkbare oplossing te vind.