Die VF Plus het vandeesweek met Mpumalanga se premier, Mandla Ndlovu, vergader oor ’n reeks dringende kwessies wat die welstand van gemeenskappe regstreeks raak.
Onder die sake wat bespreek is, tel bewerings van onreëlmatige grondgrype in Mbombela en Witrivier, asook die eskalerende taxi-geweld wat ’n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid inhou. Die party het ’n beroep gedoen op daadwerklike optrede teen diegene wat geweld en vuurwapens gebruik om geskille te besleg.
Boere in Dullstroom het klagtes geopper oor besoedeling weens mynbedrywighede en die oortreding van lisensievoorwaardes. Die VF Plus het beklemtoon dat hierdie oortredings nie net die streek se toerismewaarde ondermyn nie, maar ook die boere se ekonomiese voortbestaan. ’n Amptenaar is reeds aangewys om die saak te ondersoek en bevindings aan die premier terug te rapporteer.
’n Voorstel vir ’n grootskaalse omgewingsprojek in die Dipaleseng-gebied, wat die aanplant van minstens een miljoen bome behels, is positief ontvang. Die party het versoek dat soortgelyke inisiatiewe ook in ander munisipaliteite oorweeg word, gegrond op plaaslike behoeftes en ten einde water- en grondkwaliteit te verbeter.
Die ernstige tekort aan studentebehuising in Witrivier en Mbombela en die negatiewe impak van studentegedrag op inwoners se lewensgehalte en eiendomswaardes, is ook onder bespreking gebring.
Die VF Plus het aangedring op ’n volhoubare oplossing in samewerking met die universiteit en plaaslike owerhede.
Die party sal opvolgvergaderings versoek om te verseker dat die provinsiale regering nie net aandag gee aan hierdie kwessies nie, maar daadwerklik optree om die veiligheid, omgewingsintegriteit en sosio-ekonomiese stabiliteit van Mpumalanga se inwoners te bevorder.


