Die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit se openlike minagting vir die Vrystaatse wetgewer en sy grondwetlike oorsigmandaat bevestig dat dié instansie nie meer in staat of bereid is om sy grondwetlike pligte na te kom nie.
Dié munisipaliteit se speaker, Bheke Stofile, en die waarnemende munisipale bestuurder, adv. Lauretta van Wyk, was vandag (Vrydag, 24 Oktober) afwesig van ’n gesamentlike portefeuljekomiteevergadering tydens die week van plaaslike regering, waar die haglike toestand van Vrystaatse munisipaliteite bespreek word.
Die afwesigheid van die hoogste politieke en administratiewe amptenare is ‘n bewys van hoe ANC-beheerde munisipaliteite oorsig en aanspreeklikheid doelbewus vermy terwyl hulle in wanbestuur en korrupsie versink.
Die ANC plunder en wanbestuur Matjhabeng al vir jare. Die komitee sou vandag antwoorde moes ontvang oor ’n reeks twyfelagtige besluite, soos die sogenaamde openbare werke-eenheid in die burgemeesterskantoor, die vyf duur beleggingsberade wat tot dusver geen tasbare beleggings na die munisipaliteit gelok het nie en die beplande lughaweprojek buite Welkom, met vrae oor befondsing en kontraktoekennings.
Intussen sit inwoners steeds met gereelde wateronderbrekings en riool vloei vryelik in die strate, terwyl miljoene aan glansprojekte en salarisse bestee word.
Matjhabeng is egter nie die enigste oortreder nie. Munisipaliteite waar tans ook baie onstabiliteit en diensleweringsprobleme ervaar word, soos Nala, Fezile Dabi, Lejweleputswa en Kopanong, het ook versuim om by die wetgewer se vergaderings op te daag.
Die Vrystaatse wetgewer beskik oor dagvaardingsmagte wat gebruik kan word om amptenare te verplig om te verskyn en rekenskap te gee. Tog weier die ANC-meerderheid om hierdie magte in te span, wat die indruk skep dat daar geen politieke wil is om aanspreeklikheid af te dwing nie. Só word oorsig ondermyn en word wanbestuur ongestraf gelaat.
Hierdie versuim beklemtoon dat die ANC nie bereid is om korrupsie en wanbestuur werklik te beveg nie. Die enigste manier om aanspreeklikheid en goeie bestuur te herstel, is om by die stembus van die ANC ontslae te raak.


