Die VF Plus moedig veeboere aan om seker te maak hulle diere is teen miltsiekte geënt. Dit volg na ‘n bevestigde uitbreking op die Ghaapse Berg naby Douglas.
Miltsiekte, veroorsaak deur die Bacillus Anthracis-bakterie is ‘n siekte wat vir wildsbokke, maar ook vee en selfs mense, noodlottig is. Daarom is die voorkoms van elande wat aan dié gevreesde siekte gevrek het, ernstig.
Die Noord-Kaapse departement van landbou en omgewingsake het Vrydag ‘n waarskuwing uitgereik dat karkasse wat deur die neus of anus bloei, veilig begrawe moet word. Dit beteken dat mense beskermende drag moet dra en dat die karkas dieper as 1,8m begrawe moet word.
Die siekte kan deur blootstelling aan besmette vleis of liggaamsvloeistowwe oorgedra word, of selfs deur aanraking met spore van die bakterie. Hierdie spore kan jare lank besmetlik bly.
Vee kan wel teen miltsiekte geënt word. Volgens die departement is voldoende entmiddels in Douglas en Kimberley beskikbaar.
Niemand behoort hierdie saak ligtelik op te neem nie. Besmetting met miltsiekte (soms bekend as Anthrax) is ook vir mense dodelik.
Gebiede waar wild en vee algemeen op dieselfde of naburige plase voorkom, soos op die Ghaapse Berg, is besonder kwesbaar. Voorkomende maatreëls is dus van uiterste belang.


