Die VF Plus verwerp onlangse uitsprake van die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, oor Afrikaner-selfbeskikking kategories en sal haar graag eerstehands daaroor wil inlig.
In antwoord op ‘n skriftelike vraag van die EFF-parlementslid, mnr. Carl Niehaus, het sy in ‘n ongekende stap gepoog om artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet van sy betekenis te stroop. Hiermee het die minister nog ‘n stap geneem om die skikking van 1994 eensydig te verbreek – iets waaroor die VF Plus met haar in gesprek wil tree.
Niehaus se vraag was eintlik ‘n oproep om sekere optrede te verbied en selfs met tronkstraf strafbaar te maak. Hy vra of die minister “in die lig van voortgaande rasgemotiveerde misdade deur wit mense wat glo in wit meerderwaardigheid teen swart Suid-Afrikaners” die gebruik van kulturele selfbeskikking om rasuitsluitende enklawes te vestig, onwettig sal maak. Hy wil ook weet watter stappe sy sal neem om alle vorms van rassisme gegrond op “wit meerderwaardigheid” tot misdaad te verklaar en toe te sien dat oortreders tronk toe gaan.
Terwyl die VF Plus aan dié soort retoriek van die EFF en Niehaus gewoond is, het die party ‘n meer ewewigtige antwoord van die minister verwag – nie op grond van wie sy is nie, maar op grond van haar amp. Kubayi probeer Niehaus egter oortref: Sy stel sonder stawing dat dit hoofsaaklik wit mense is wat rassisties teenoor swart mense optree.
Sy dra wel sorg om te verduidelik hoe die Grondwet, wetgewing en die ondertekening van internasionale verdrae diskriminasie in enige vorm verbied en noem die vervolging van Penny Sparrow en Julius Malema om aan te dui dat die regering alle rassisme vervolg.
Vervolgens redeneer Kubayi dat wit Suid-Afrikaners (insluitend Afrikaners) weens hul geskiedenis as onderdrukkers buite die bestek van die reg op selfbeskikking val. Orania bevestig volgens haar dié siening, deur kulturele selfbeskikking as dekmantel vir hul eie gevoel van meerderwaardigheid en eksklusiwiteit te misbruik. Dít terwyl Afrikaners in die breë, volgens haar, vry en sonder bedreiging leef.
Die minister se gevolgtrekking is dat Orania se aanspraak op selfbeskikking wetlik onakkuraat is, rasseskeiding voortsit en sosiale versplintering en ongelykheid versterk.
Artikel 235 gee dus volgens haar geen gemeenskap die reg om homself territoriaal van die nasie as geheel af te skei en raseksklusiewe enklawes in stand te hou nie. Dit sal volgens haar die Groepsgebiedewet van 1950 weer in werking stel.
Sy ignoreer die insluiting van artikel 235 in die 1996-Grondwet van Suid-Afrika, as direkte gevolg van Afrikaners se kommer dat hul identiteit en ekonomiese geleenthede in die demokratiese bedeling aan ‘n “tirannie van die meerderheid” onderworpe kan wees.
Verder ignoreer sy gesprekke met die regering wat gelei het tot uitsprake van oud-president Thabo Mbeki en haar eie voorganger, mnr. Valli Moosa, dat die verwesenliking van selfbeskikking van Afrikaners self afhang.
Die VF Plus nooi die minister derhalwe vir ‘n ernstige gesprek oor die teorie van selfbeskikking, die Suid-Afrikaanse agtergrond daarvan asook die werklikheid soos dit in Orania vergestalt word.
Dit is foutief om te redeneer dat slegs slagoffergemeenskappe op selfbeskikking geregtig is. Die werklikheid is dat alle gemeenskappe daarop geregtig is, maar dat magtige gemeenskappe of volke nie daarop hoef aanspraak te maak nie – hulle beskik reeds daaroor. Maar as hulle die magsposisie verloor, is die bordjies verhang en is die strewe tot selfbeskikking vir hulle van soveel belang soos vir enige ander gemeenskap.
Nog ‘n fout is om Afrikaners wat selfbeskikking nastreef, per definisie as rassiste en aanhangers van wit meerderwaardigheid te bestempel. Die wese van Orania is om radikaal van die koloniale ekonomiese patroon van goedkoop arbeid en werksverdeling volgens ras weg te breek. Alle werk in Orania word dus deur Afrikaners self gedoen.
Die VF Plus het ‘n skrywe aan die minister gerig, om haar van die VF Plus se siening oor haar antwoord in te lig en tot gesprekvoering uit te nooi.
Tans kan die minister onkunde pleit, maar dit is die VF Plus se taak om haar eerstehands met die werklikheid van Afrikaner-selfbeskikking in aanraking te bring.


