fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus blink uit in poste in Tshwane-metroraad as deel van die nuwe koalisieregering

Die Vryheidsfront Plus is trots om aan te kondig dat die VF Plus-span wat deel vorm van die nuwe koalisieregering in die Tshwane-metro verskeie senior poste beklee. Die VF Plus is die DA se grootste koalisievennoot in Pretoria.

“Die party is baie trots op die span in Pretoria wat nou in ‘n baie sterker uitvoerende posisie is om te verseker dat die metro goed regeer word en dat daadwerklik aandag gegee word aan die behoeftes van almal wat in die metro woon,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se Gauteng-leier, gesê.

Die VF Plus beklee die volgende poste in die metro:

Lid van die Uitvoerende Komitee – Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling: Sakkie du Plooy. Sakkie was voorheen ‘n kapelaan in die weermag, het ‘n passie en hart vir arm mense en is dus perfek om die pos te vul;

Voorsitter van die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee: Awie Erasmus. Awie is ‘n rekenmeester en is dus ook baie gepas om die posisie te vul;

Voorsitter van die Reëlskomitee: Piet Uys. Piet Uys is die VF Plus se nasionale sekretaris met ‘n agtergrond in die weermag wat ideale ervaring is vir die pos.

Voorsitter van ‘n toekomstige subraad: Pastoor Ben Erasmus. Past. Erasmus het baie jare ervaring in die AGS-kerk as pastoor en is tans die streeksvoorsitter van die Gauteng-Noord streek. Hy sal as streeksleier in die Noord-Weste van Pretoria dus ‘n groot rol kan speel as die voorsitter van ‘n toekomstige subraad in die omgewing of elders.

Verder is die posisie van ‘n uitvoerende adjunk-burgemeester wat in die toekoms geskep kan word ook vir die VF Plus gereserveer.

Die VF Plus se span sien baie daarna uit om ‘n substantiewe rol in die metro te speel om die stad leefbaar te maak vir almal wat daarin woon, asook om minderheidsregte tot wasdom te laat kom deur middel van die afwenteling van mag na subrade toe wat dienslewering enersyds sal verbeter en andersyds sal sorg dat die stad se kulturele diversiteit beskerm en bevorder word.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.