Misdaadstatistiek vir 2015/2016 toon aan dat geweldsmisdaad in Suid-Afrika steeds styg wat kommerwekkend is. Moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede het die afgelope vier jaar opeenvolgend gestyg, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.
Volgens die jongste misdaadstatistiek het moord (4,9%), poging tot moord (3,4%), aanranding om ernstig te beseer (0,2%), gewone aanranding (2,2%), roof met verswarende omstandighede (2,7%) en gewone roof (1,5%) gestyg.
Die gevreesde misdaad, roof by woonhuise, het ook die vierde jaar agtereenvolgens gestyg – nou weer met 2,7%. Daar was 20 820 rooftogte by woonhuise.
Motorkapings ruk handuit en het met 14,3% gestyg en dit is ook die vierde jaar agtereenvolgens dat dit styg. Die algemene publiek het dus regverdiging om te sê hulle voel onveilig en dat misdaad in Suid-Afrika net toeneem.
Statistiek oor plaasmoorde en –aanvalle is ook bekend gemaak nadat dr. Pieter Groenewald van die VF Plus daarop aangedring het. In die verslagjaar was daar 49 plaasmoorde en 446 aanvalle.
Dr. Groenewald sê die VF Plus verwelkom die besluit om misdaadstatistiek van nou af kwartaalliks bekend te stel ingevolge ‘n kabinetsbesluit.
“Die VF Plus vra al die afgelope vyf jaar daarvoor. Die voorneme om ‘n eksterne oudit te laat doen op misdaadstatistiek word ook verwelkom,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403