Dis skandalig dat die Gupta-familie soveel invloed op die regering en veral die kabinet het om hulle te beweeg om namens die Guptas die hele ekonomiese monetêre en betaalstelsel aan te val en sodoende die integriteit van die ekonomie onder verdere druk te plaas, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.
Dit volg op voorstelle van die kabinet en ‘n inter-ministeriële komitee rakende ‘n geregtelike kommissie van ondersoek oor banke se behandeling van die Guptas.
Adv. Alberts sê dit verstommend dat die kabinet ter wille van een familie soveel skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie kan aanrig.
“Dis ‘n feit dat die ekonomie tans onder politieke beleg staan weens die stryd tussen minister Pravin Gordhan en die tesourie aan die een kant en president Jacob Zuma en die Valke aan die ander kant.
“Om nou nog ook in die bresse te tree vir die Guptas en die hele bankstelsel aan te val dui daarop dat die Zuma-faksie besig is om ‘n desperate oorlog te voer waar geen prys te hoog is nie om in beheer van die beursie te bly nie.
“Die ANC onder Zuma stel net daarin belang om te eet en nie te bou nie. Dit doen hulle op die rekening van die belastingbetaler en dit is duidelik dat hulle daardie voorreg sal verdedig ongeag die koste aan die land in geheel.
“Die voorstelle vir ‘n ondersoek rondom die uitreiking van banklisensies sou nie so onsinnig gewees het indien dit nie namens een familie gedoen is nie, maar as deel van ‘n onbevange en eerlike ondersoek rondom die mededingendheid van die bankwese in die land en die kunsmatige uithou van nuwe banke in die ekonomie.
“Hierdie ondersoek is egter nou gekontamineer en sal ironies daarvoor sorg dat die huidige groep banke eenvoudig dominant bly.
“Die skade en gevolge van die Zuma-olifant wat als onder hom vertrap is, is groot en kring elke dag wyer uit,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403